Marli wil haar lewe toewy aan ander

Marli Marais van Langenhoven Gimnasium wys haar matrieksertifikaat wat aandui sy het sewe onderskeidings behaal!

Marli Marais van Langenhoven Gimnasium wys haar matrieksertifikaat wat aandui sy het sewe onderskeidings behaal!

HAAR grootste droom is om ’n dokter te word, vertel Marli Marais, onderhoofmeisie van Langenhoven Gimnasium in 2016 en een van die skool se topmatrieks in die eindeksamen.

Marli, wat matriek met ’n gemiddeld van 89,9% geslaag het, het sewe onderskeidings behaal, naamlik in Afrikaans Huistaal, Engels Huistaal, wiskunde, lewensoriëntering, rekeningkunde, lewenswetenskappe en fisiese wetenskappe.

Marli sê sy wag egter nog vir keuring vir mediese studie. Sy het by verskeie universiteite aansoek gedoen. “Ek wil my lewe toewy om mense te help. Ek kan met alle eerlikheid sê dat ek myself niks anders kan sien doen nie.”

Marli sê sy glo sy het so goed gevaar in die eindeksamen as gevolg van haar positiewe gesindheid teenoor haar werk en skool, asook deurgaanse harde werk. Sy vertel verder: “My geloof is vir my kernbelangrik en dien as grondslag vir die koers van my lewe. Opregtheid is ook ’n kwaliteit waaraan ek baie waarde heg.”

Sy is die dogter van Jacques en Adele Marais, die koshuisouers by Aristo Laerskoolkoshuis.

Ten slotte bestempel sy haarself as ’n trotse Suid-Afrikaner wat optimisties is oor Suid-Afrika se toekoms as gevolg van die enorme potensiaal wat in die jeug opgesluit lê.

“Ek voel egter dat ons as jeug en ons as Suid-Afrikaners aksie moet begin neem om ’n verskil te maak, want om terug te sit en alles te aanvaar gaan nie ons land in die toekoms laat floreer nie.”