Merkwaardige Marie word 101

101 jaar oud en steeds kan jy haar deur ’n ring trek. Marie van der Merwe van Oudts­hoorn Sondag op haar verjaardag.

101 jaar oud en steeds kan jy haar deur ’n ring trek. Marie van der Merwe van Oudts­hoorn Sondag op haar verjaardag.

“DIT is darem baie oud.”

Dit was Sondagoggend die rustige reaksie van Marie van der Merwe van Tuishuis toe sy 101 jaar oud geword het.

Dié merkwaardige verjaardag het egter vir Van der Merwe en familielede met hart­seer gepaard gegaan. Haar suster wat saam met haar die afgelope 16 jaar in Tuis­huis gewoon het, Ans Olivier (92), is op 7 Januarie oorlede en Maandag begrawe.

Op haar verjaardag kon jy Van der Merwe deur ’n ring trek – – soos die eerste keer in 2006 toe Die Hoorn met haar op haar 90ste verjaardag gesels het.

Sy is volgens haar dogter, Marianne van der Lecq van Mosselbaai, nog baie helder en geniet goeie gesondheid. Die enigste gesondheidsprobleme wat sy nog ondervind het, was ’n heup-operasie sowat 12 jaar gelede en toe sy in Maart verlede jaar oornag blind geword het.

Van der Merwe, wat op haar dag die vriendin was van bekende digters soos NP Van Wyk Louw en sy vrou Truida, GA Watermeyer en sy vrou Letsie en SJ Pretorius, luister deesdae graag na CD’s met voorlesings van die gewildste Afrikaanse gedigte en resiteer volgens Van der Lecq groot dele daarvan saam met die voordraer – onder meer uit Vroegherfs van NP van Wyk Lous en Oktobermaand van C Louis Leipoldt.

Sy is op Oudtshoorn gebore en het hier grootgeword het. Sy het as volwassene as vertaler by die SAUK gewerk en was 19 jaar lank die privaatsekretaresse van die destydse SAUK-hoof, Piet Meyer. Sy was ’n gerekende vertaler van radiodramas en boeke, en het ’n historiese roman oor die omstrede koning Fillips II van Spanje, Die offers van ’n erfenis, gepubliseer.

Sy het ook nadat sy die SAUK verlaat het by wyle dr Johan Gerber as sekretaresse gewerk terwyl hy tien jaar lank sekretaris was van die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Narkotiseurs.

Gerber wat die laaste aantal jare van sy lewe op Oudts­­hoorn gewoon het, is in 2008 oorlede.

Van der Merwe se man, die taaladviseur dr Fritz van der Merwe, het haar reeds in 1956 ontval toe hy slegs 38 en sy 39 was. Haar ander dogter, Erna, is in 1995 oorlede.

Sy het 26 jaar gelede teruggekeer Oudts­hoorn toe. Sy het eers ’n huis met Ans gedeel voordat hulle saam besluit het om na Tuishuis te verhuis.