
Na die ongelooflike sukses van Klassieke Klein Karoo Kersfees wat deur sowat 700 mense bygewoon is, skop die Celebratio-konsertreeks vir 2019 af met die klassieke popklanke van Abba.
Die musiek van dié supergroep vermaak mense reeds dekades lank en selfs nou, 27 jaar nadat die groep in die vroeë tagtigerjare ontbind het, laat hul musiek steeds die voete jeuk en kan meeste aanhangers die groep se treffers woord vir woord saamsing.
Die onlangse trefferflieks Mamma Mia en Mamma Mia Here we go Again het weer eens nuwe belangstelling in Abba se musiek ontketen en ’n nuwe generasie voorgestel aan treffers soos Dancing Queen, Money Money Money en Super Trooper.
In Februarie kry Abba se musiek ’n klassieke popklank wanneer A Classical Tribute to the Music of Abba op die uitvoer-granaatplaas Celebratio buite Oudtshoorn aangebied word.
Die Stellenbosch Stadsorkes, onder leiding van Paul Loeb van Zuilenberg, en drie soliste sal al die grootste Abba-treffers laat herleef onder die sterrehemel van die Klein Karoo.
Die drie soliste is Kyle Seconna, Juju Domingo en Helene Henn. Kyle en Juju is akteurs wat ewe knap kan sing terwyl Helene ‘n beroepsanger is.
Volgens Paul wil hy klassieke musiek laat voortleef deur gewilde popmusiek te speel wat almal ken en kan saamsing.
Tesame met ’n professionele klank- en beligtingspan gaan die klassieke popklanke van ABBA sorg vir ’n baie spesiale aand.
Kos- en wynstalletjies open reeds van 18:00 af en die vertoning begin om 20:00.
Die vertoning duur sowat twee ure, pouse inge-sluit.
Kaartjies kan aanlyn bespreek word en wissel van R160 tot R200. Dit kan gekoop word by www.celebratio.co.za.
Al die sitplekke is op stoele en gereserveer.
Beperkte VIP-pakkette is beskikbaar teen R380.
Vir meer inligting kan Gerhard Meyer gebel word by 082 802 7138.