Die Rec op Oudtshoorn was aand ná aand gepak met duisende feesgangers wat die konserte by die Huisgenoot-verhoog bygewoon het. Hier is die bekende Majozi tydens Awê Kaktus, die eerste aandkonsert wat op die openingsdag van die fees plaasgevind het. Foto: Hans van der Veen
Deur Liesel le Roux
DIE afgelope KKNK was ’n “wonderlike voorloper” vir die groot viering van die 25ste KKNK wat van 21 tot 27 Maart 2019 op Oudtshoorn gaan plaasvind, sê Hugo Theart, waarnemende uitvoerende hoof van Kunste Onbeperk.
“Die ondersteuning van die Oudtshoorn Munisipaliteit en die inwoners van Oudtshoorn was opmerklik en ons wil graag vir ’n ieder en elk dankie sê vir hulle bydrae om dié fees ’n baie suksesvolle een te maak.”
Theart sê die KKNK-kantoor ontvang goeie terugvoer oor die fees. “Besoekers het ’n geweldige positiewe ervaring op Oudtshoorn gehad en die feesatmosfeer was ongelooflik.”
Hy het die volgende interessante terugvoer verskaf:
• ’n Beraamde 10 000 mense het daagliks die Kuierbuurt tydens die Paasnaweek besoek, met meer as die helfte wat na skatting die aandkonserte bygewoon het. Die Kuierbuurtkaartjies het soos verlede jaar toe- gang tot die aandkonserte ingesluit, maar daar was vanjaar ’n daadwerklike toename in die bywoning van die aandkonserte.
• Terugvoer toon dat besoekers gehou het van die verskuiwing van die feesterrein.
• Die Netwerk24-Feeskafee was ’n uitstekende bymekaarkomplek vir gesprekke by die fees (Die Burger Praat Saam- en Boekgesprekke) en is goed ondersteun. Die Kwêla-gesprekke by die Absa Rooiplein is ook goed bygewoon.
• In die teaters is debuutwerke baie goed bygewoon, met verskeie vertonings wat uitverkoop het, soos Nêrens, Noord-Kaap, Swerfgoed, CH3 met Chris Chameleon en CH2 en Lize Beekman – Stilte na die storm.
• Daar is vanjaar meer visuele kunswerke uit die aanbod by die Prince Vintcent-gebou verkoop.
• Verblyf wat deur die KKNK se verblyfkantoor verhuur is, was baie vol, veral oor die Paasnaweek.
• Gesprekke word reeds gevoer oor haakplekke wat geïdentifiseer is sodat dit aangespreek kan word.
• Theart het inwoners en feesgangers gevra om terugvoer of kommentaar oor die fees na info@kunste. org.za te e-pos sodat dit in aanmerking geneem kan word tydens die beplanning van die 25ste KKNK.