Soos in ou dae kom toneel platteland toe

Layout 1

Deur Liesel le Roux
VYF kunstenaars, twee ton dekor, kostuums, re­kwisiete en beligting, 196 dorpe oor 11 maande…

Oudtshoorn en Calitzdorp is twee van die dorpe waarheen die Nasionale Toneelvereniging (NTO) volgende week tydens ’n landwye toer reis om toneel soos in die ou dae terug te bring na die platteland.

Die NTO besoek Oudtshoorn op Woensdag (12 Julie) en Calitzdorp Donderdag (13 Julie) met die klug Geleende Vere. Dié klug is geskryf deur Siegfried Geyer en in Afrikaans vertaal deur die teaterlegende André Huguenet.

Geleende Vere is oorspronklik in 1944 in Suid-Afrika opgevoer onder spelleiding van Huguenet. Dit is ’n komedie oor ’n prins wat rolle met sy kneg omruil weens ’n wrede sameloop van om­stan­dighede. Dit lei tot ’n klomp komiese kom­plikasies.

Boonop het die NG Kerk destyds beswaar aangeteken teen die “losse sedes” in die stuk, maar dit het uiteindelik net tot voller sale gelei!

Die NTO spesialiseer in die aanbieding van gehalte teaterproduksies in Afrikaans. Hulle doelwit is om toneelstukke wat in ’n vroeëre era gewild was, te laat herleef en na die platteland te neem en is verbind tot werkskepping vir Afrikaanse kunstenaars.

• Kaartjies na alle vertonings kos R95. Die Oudtshoorn-vertoning is om 20:00 in die NG Kerk Wes-saal, Kaartjies is te koop by Bottega Galery en Ramers oorkant die Spur in Baron van Reedestraat.

• Die Calitzdorp-vertoning is om 20:00 in die NG Kerksaal. Kaartjies is te koop by die Toerismekantoor.

• Kaartjies vir alle vertonings kan ook bespreek word by Computicket / Shoprite/Checkers of aanlyn by www.computicket.com.