Thelisha Piedt (voor) by van links Leon Coetzee, Vaughn Shone en Christo van der Bergh. Foto: Ilze-Mari Gründling
DIE bekende Oudtshoornse prokureursfirma Coetzee en van der Bergh se nuutste toevoeging tot hul span is in murg en been ’n Oudtshoorniet.
Thelisha Piedt (23), enkelkind van Valerie Piedt wat deur haar ma en tannie Diane grootgemaak is – het haar skoolloopbaan in 2001 aan Sacred Heart Primêr in Bridgton begin. In 2007 was sy die skool se hoofmeisie en in 2008 het sy ’n beurs verwerf om haar hoërskoolloopbaan aan Principia Kollege voort te sit. Dié skool het ongelukkig sy deure gesluit waarna Thelisha haar skoolloopbaan aan die Hoërskool Oudtshoorn voortgesit en daar gematrikuleer het.
Sy het haar LLB-graad verlede jaar aan die Universiteit van die Wes-Kaap – in ’n rekordtyd van vier jaar en cum laude – verwerf. Sy is deel van die top L.A.W.-studente in die land en het in 2016 in die tydskrif Without Prejudice verskyn.
Sy vertel dat sy baie betrokke was op kampus. “Ek was op die dean’s list vir drie jaar en ook ’n ambassadeur en ’n mentor. Ek is ook deel van die International Golden Key Society, wat gemeenskapswerk doen.”
Thelisha het nog altyd aangetrokke gevoel tot die regte. “Ek het altyd as kind die rol van ’n landdros gespeel as ek met vriende gespeel het. Dit was maklik om te besluit wat ek eendag wou word. Ek het geweet dat ek myself in die regsgebied wou vestig weens die etiese aspek daarvan. Ek beskou myself as iemand wat baie integriteit het.”
Thelisha vertel ook dat sy ’n mense-mens is, en dat spanwerk een van haar sterkste punte is.
“Ek het geleer hoe om by elke nuwe situasie aan te pas nadat ek my eksamen tydens die #Feesmustfall-veldtog moes voltooi. Om hierdie graad te studeer was baie uitdagend, maar ek stel baie belang in strafregspleging. Ek wil graag in die veld van strafreg verder werk, ’n gesinsadvokaat of ’n verdedigingsprokureur of ’n staatsprokureur word.”
Thelisha sê sy het Coetzee en van der Bergh gekies om haar artikels te doen omdat sy met haar kandidaat-prokureurskap daar die kans sal hê om te groei. “Hier kan ek myself wees. Almal werk goed saam en hier is ’n lekker atmosfeer. Ek is baie gelukkig hier en leer baie.”
Coetzee en van der Bergh Prokereurs het in 1995 ontstaan en spesialiseer in alle velde van die reg.
Leon Coetzee, direkteur (B.Sc, Landbou B. Proc), sê sy span glo daarin om ten alle tye kwaliteit diens te lewer.
“Ons streef ook daarna om sake so gou as moontlik af te handel. Spoed is ’n belangrike faktor in ons werk en ons spanwerk is uitnemend.”
•Vir enige regshulp en advies, kontak Coetzee en van der Bergh Prokureurs by 044 272 8931 of besoek hul kantoor by Baron van Reedestraat 41.