Jean Neethling (links) van die Oudtshoorn-kantoor van die Wes-Kaapse Departement Sport oorhandig tydens die amptelike loodsing van die Sportfees ’n spesiale trofee vir die beste dominospan aan die burgemeester, Colan Sylvester. By hulle staan die onder-burgemeester, Noluthando Mwati. Foto: Garnett Wicomb
Deur Garnett Wicomb
VOLGENDE jaar se Oudtshoorn Sportfees gaan weer ’n grote wees met ten minste 15 sportkodes soos in die verlede.
So het Ian Laubscher, sportbeampte van die Oudtshoorn Munisipaliteit, Vrydagoggend tydens die amptelike loodsing van vanjaar se fees in die Oudtshoorn-raadsaal gesê.
Slegs agt sportkodes is vanjaar op die feesprogram wat Saterdag afgesluit word met die Wes-Kaapse baldanskompetisie in die De Jager Sport-kompleks.
Laubscher het sy dank teenoor die Wes-Kaapse Departement Sport en Kultuursake uitgespreek wat grootliks daartoe bygedra het dat die fees na twee jaar se afwesigheid weer aangebied kon word. Die departement het mildelik bygedra tot die vervoer van deelnemers en beamptes, mediese hulp en het ook al die medaljes voorsien.
Volgens Laubscher word beoog om volgende jaar die nasionale baldanskompetisie gedurende die fees aan te bied.
Hy het ’n beroep op die Oudtshoorn Munisipaliteit gedoen om meer vir sport te begroot.
Volgens hom het dit ’n grootse poging geverg om die fees weer aan die gang te kry en die raad vir sy ondersteuning bedank.
Die burgemeester, Colan Sylvester, het in sy toespraak sportfederasies aangemoedig om meer groot sportgeleenthede na Oudtshoorn te bring en die dorp op hierdie manier te bemark as sportmekka van die Wes-Kaap.
“Ons weer is ideaal,” het hy bygevoeg.
“Die fees met sy sowat 1 800 deelnemers en beamptes asook talle ouers wat dit bywoon, stimuleer die dorp se ekonomie tot ’n groot mate.”
Hy het namens die munisipaliteit die Departement Sport en Kultuursake bedank.
• Die fees het Saterdag begin met die Oudtshoorn Ope-skaaktoernooi in die ontspanningsaal op die Rec, die Safa Eden Top 8-sokkertoernooi in die Bongolethu Stadion, die Eden Distrik-netbal ontwikkelingstoernooi op die Bridgton Sportgronde, die Wes-Kaap Jeugrolbal-ontwikkelingstoernooi by die Oudtshoorn Rolbalklub, die Eden-streek Amateur-bokstoernooi by die Oudtshoorn Infanterieskool en ’n dominotoernooi in die saal van die Suid-Kaap Kollege.
Fietsryers het ook mekaar van Maandag tot Woensdag die stryd aangesê.
Môre en Saterdag se baldanskompetisie is ’n kwalifiserende toernooi vir dansers om aan die wêreld-baldanskompetisie te kan deelneem en die hoogtepunt van die fees.