Moratorium op huiswinkelaansoeke in die Groter Oudtshoorn

MUnisipaliteit
Deur Ilze-Mari Gründling
DIE Groter Oudtshoornraad het verlede Donderdag (29 Junie) ’n moratorium op huiswinkelaansoeke goed­gekeur.

Die moratorium sal geldig wees totdat ’n nuwe beleid oor huis­winkels hersien en goedgekeur is.
Dié beleid sal dit ook vir die munisipaliteit moontlik maak om teen onwettige huiswinkels op te tree en dit te sluit.

Die raad het besluit dat die nuwe beleid oor die volgende vier maande tydens werksessies verfyn sal word om seker te maak dat die behoorlike pro­sesse gevolg word, terwyl insette van die publiek ook in ag geneem sal word.

Volgens raadstukke wat voor die vergadering gedien het, is daar ’n me­nigte huiswinkels in Oudtshoorn, De Rust en Dysseldorp geleë – met die meeste in die woonbuurte Bongulethu, Bridgton, Toekomsrus, Rose Valley en Rosebank in Oudtshoorn.

Die meeste van die huiswinkels is voorts onwettig opgerig omdat daar tans geen duidelike riglyne vir die pu­bliek is om te volg nie. Dit verhoed die munisipaliteit om tariewe en belasting van dié eiendomme te verhaal en bemoeilik die monitering van sulke winkels.

In die meeste gevalle is die elektri­siteit-, riool- en wateraanslui­tings van die huiswinkels ook onwettig.
Dit blyk ook uit die raadstukke dat huiswinkeleienaars nie daarvan bewus is dat hulle moet aansoek doen by die munisipaliteit om so ’n besigheid te bedryf nie.

Vir ’n huiswinkel word onder meer ’n grondgebruikaansoek benodig en moet ’n bouplan ingedien word ooreenkomstig bouregulasies.