

Saam met Johan Strasheim
Ek maak nou die aand my selfoon “skoon” en vee onnodige boodskappe uit. Ek kom weer af op hierdie twee sms’e:
“Jammer om te hoor van julle hondemaatjie, my vriend. Ons treur saam met julle.”
“Dankie, Oom, ons huil al van gister af, sy was soos ons eerste kind.”
My gedagtes neem die loop en ek dink met ’n knop in my keel aan die streep honde wat al deel van my lewe was en ek geken het, groot en klein…
Boelie en Sampie en later Bessie by ons. Bakkeljan en die Jackie Lola. Lola. Ai, Lolatjie… Haar verlies was die ergste ooit en ons treur sewe jaar later nog steeds oor haar.
Wanneer ’n hond in jou lewe kom vir die regte redes, begin jy eintlik ’n reis. ’n Reis wat jou liefde en toewyding sal wys meer as wat jy ooit geken het, maar dit sal ook jou krag en mannemoed by tye tot die uiterste beproef. Met die regte ingesteldheid sal hierdie reis jou egter baie dinge leer, oor die lewe, oor jouself, maar die meeste van alles oor die liefde. Onvoorwaardelike liefde.
Jy sal nooit heeltemal dieselfde wees nie, want een siel kan nie ’n ander so raak sonder dat dit vir ewig sy merk laat nie.
Sodra jy waarneem soos ’n hond doen, gaan ’n nuwe wêreld vir jou oop. Jy sal stop en die landskap bekyk, in droë blare krap, in boomstompe loer, opkyk, afkyk, oral kyk. En jy leer wat ’n hond reeds weet; dat die natuur ’n wonderlik komplekse wêreld vol verrassings is.
Jy sal gaan staan om die kolkdans van windverwaaide blare in ’n warrelwind dop te hou, of sommer net staan en snuif in die lug na ’n reënbui. Dit maak nie regtig saak dat daar geen doel hiermee is nie; die punt is deur dit te doen laat jy nie die lewe se belangrikste besonderhede ongesiens verby gly nie.
Jy sal agterkom dat jy dinge doen wat net jou hondvriende sal verstaan: ’n halfuur in die supermark soek na die presiese tipe kos wat jou maat moet hê, rol op die grasperk en stoei met slymerige gekoude speelgoed, tennisballe gooi totdat dit donker word, en selfs ’n hondjie aan ’n ou sykous deur die huis sleep – alles uit liefde uit.
Jou huis kry met tye bietjie ontydige modder en omtrent altyd baie hondehare in. Jy sal minder donker klere dra en koop meer gereeld ’n nuwe stofsuier. Jy sal hondekoekies in jou baadjiesak of handsak kry, en voel dis nie nodig om te verduidelik oor die ou sokkies op die woonkamervloer nie, want jou hond is maar lief vir ’n impromptu toutreksessie. Jy sal die ware diepte van die liefde leer – die onselfsugtige tipe liefde wat sê: “Dit maak nie saak waar ons is of wat ons doen of hoe die lewe ons behandel nie – so lank as wat ons saam is.”
Respekteer dit. Dit is die kosbaarste geskenk wat enige lewende siel ’n ander kan gee. Jy kry dit nie sommer tussen mense nie. Amper, maar nie dieselfde nie.
En jy sal leer van nederigheid. Daardie kyk in jou hond se oë wat jou laat skaam kry – sulke uitbundige vreugde en liefde net om by jou te wees! Hulle sien nie gebrekkige mense wat dikbek en hardkoppig, humeurig of onbeskof kan wees nie, maar net ’n wonderlike maat en meester wat hulle stertswaaiend en uitbundig inwag al was jy net vir ’n paar minute weg.
As jy aandag gee en dié dinge leer, sal jy nie net ’n beter persoon wees hoe langer die reis aangaan nie, maar sal miskien jy selfs die mens word wat jou hond altyd geweet het jy is – dié een wat hy trots gewys het sy geliefde vriend is.
Hierdie reis is ongelukkig nie sonder seer nie. Soos alle paaie van ware liefde, is die pyn onvermydelik deel daarvan. Ons weet eendag gaan jou liewe hondemaat moet afdraai en vooruithardloop op ’n ander deel van die reis waar ons nie kan saamgaan nie. En die pynlikste is dat jy die krag uit hierdie liefde sal moet put om hulle te laat gaan. Dit is die seerste seer.
’n Hond se lewe en sy tyd op aarde is hopeloos te kort, veral vir diegene van ons wat vir hulle liefkry. Ons leen hulle eintlik maar net vir ’n rukkie, en tydens hierdie kort rukkie gee hulle vir ons elke greintjie liefde, elke bietjie van hulle gees en harte, totdat daar eendag niks meer oor is nie.
Die hond wat nou die dag ’n klein babatjie was met die reuk van melkerige pappies in sy bekkie word al te gou oud en broos en lê en slaap in die son. Die jong hondjie met eens oneindige energie word later styf en laat wakker en staan stadig op in die winter, met die ou bek wat oor die jare stadig vaalwit geword het.
Diep hierbinne het ons altyd geweet dat hierdie reis op die een of ander manier sou eindig. Alle reise doen. Ons wens dit seker maar weg. Ons het geweet dat as ons ons harte gegee het hulle gebreek sou wees, maar ons moet dit doen – dit is al wat hulle vra.