’n Eerste vir Klassique

Restaurant Teater bring klassieke musiek en kos 

Sulayman Human wat  vanjaar by Klein Karoo Klassique te sien is.   Foto verskaf

Sulayman Human wat vanjaar by Klein Karoo Klassique te sien is.
Foto verskaf

KLASSIEKE musiekliefhebbers kan vanjaar die eerste keer ’n restaurantteaterervaring by die Klein Karoo Klassique op Oudtshoorn beleef. Dié winterfees van klassieke musiek, kuns, kos en wyn, word van Vrydag 11 Augustus tot Sondag 13 Augustus die negende keer aangebied.

By Die Windpomp Restaurant Teater in die CJV-saal agter die NG Moederkerk, kan feesgangers twee musiekuitvoerings en smulkos berei deur die span van Signature Divine ervaar.

“Vrydagaand kan feesgangers uitsien na An Evening of Jazz met van die finaliste uit vanjaar se Artscape Youth Jazz-mentorskapprogram. Op die program is Suid-Afrikaanse en klassieke jazz,” sê Rhodé Snyman, uitvoerende hoof van Kunste Onbeperk, die maatskappy wat Klein Karoo Klassique aanbied.
Die pianis Sulayman Human keer Saterdag 12 Augustus terug na sy tuisdorp vir ’n Aand met Sulayman Human. “Dié optrede is ’n moet vir liefhebbers van klaviermu­siek. Sulayman speel Mozart se Sonate in C majeur, Chopin se Berceuse in D-mol majeur asook musiek van Schubert, Rachmaninoff en Kapustin,” sê sy.

Aandetes in Die Windpomp Restaurant Teater word vanaf 19:00 bedien en fees­gan­gers kan smulgeregte met bestand­dele uit die Klein Karoo en omgewing verwag. Etes word by die restaurant bespreek en betaal.

Die twee musiekoptredes in die Windpomp Restaurant Teater begin om 21:00 en kaartjies hiervoor kan afsonderlik ge­koop word by Kunste Onbeperk se kantoor (3de vloer, Seppie Greeff Gebou in Voortrekkerweg) of by 044 203 8600.

Ligte etes word ook deur die dag by die restaurant bedien en dit is nie nodig om ’n uitvoering by te woon om daar te eet nie. Saterdag en Sondag kan wyn en deli-produkte tussen 11:00 en 18:00 in die area buite die CJV-saal geproe word.

• Behalwe vir die Restaurant Teater bied Klein Karoo Klassique vanjaar agt musiekuitvoerings, naamlik CH2 in konsert met Corneille Hutten en Dirkie van Staden (kitaar), Vivaldi se Vier Seisoene herbesoek met Petrus de Beer (viool), Stanislav Angelov (trekklavier) en Schalk Joubert (baskitaar en voordrag); Folk Baroque met die Camerata Tinta Barocca; Alleenstryd: Hendrik Hofmeyr Huldigingskonsert met Minette du Toit-Pearce (mezzo-sopraan), Lauren Dasappa (sopraan), Jolene McCleland (mezzo-sopraan), José Dias (klavier) en ’n gasoptrede deur Hendrik Hofmeyr; Carmen – in die kleine met Jolenne McCleland as Carmen (mezzo-sopraan), Lauren Dasappa as Michaëla / Frascuita (sopraan), Linette van der Merwe as Mercédès (mezzo-sopraan), Chris Mostert as Don José / Le Remendado (tenoor), Niël Rademan as Escamillo (bariton) en Raimondo van Staden as Le Dancaïre (bariton); Spieël-dans in die maanlig met Jana van der Walt (harp) en Rina Schutte (tjello); Beethoven Tango met Zanta Hofmeyr (viool) en Charl du Plessis (klavier) en die ATKV Afsluitingskonsert met Megan-Geoffrey Prins (klavier), Tatiana Thaele (fluit), Palesa Malieloa (sopraan) en Philippus Hugo (klavier).
Kaartjies vir dié agt musiekuitvoerings is beskikbaar by Computicket, Shop­rite/Checkers en House & Home teen R125 elk. Al vanjaar se uitvoerings word in die NG Moederkerk aangebied, waar daar ook ’n CD-winkel bedryf word.

Drie gratis gesprekke word na van die uitvoerings aangebied: ’n gesprek oor ba­rokmusiek met die kunstenaars van Folk Baroque, een met komponis Hendrik Hof­meyr na Alleenstryd: Hendrik Hof­meyr Huldigingskonsert en ’n gesprek met Charl du Plessis en Zanta Hofmeyr na Beethoven Tango.

Vanjaar se fees bied afslagpakkette vir groepe skoliere met ’n belangstelling in klassieke musiek teen slegs R50 per leerder per uitvoering. Stuur ’n e-pos na JC Aucamp by jc@kunste.org.za.
• Meer inligting oor Klein Karoo Klassique en die volledige musiek­program: www.klassique.co.za.