Die voorblad van die Afrikaanse uitgawe van die boek.

Die skrywer van die nuwe boek, Piet Smit van De Rust. Foto verskaf
’N NUWE boek wat ’n inwoner van De Rust, Piet Smit, pas die lig laat sien het, Die kloutjie by die oor bring, se subtitel is Word mooier van binne.
Volgens Smit is dit ’n boek oor heelwording wat genesing kan bring; ’n boek wat jou stap vir stap kan lei na self- en tuisgenesing.
Smit skryf dat vrede nie net by die see of in ’n vakansiehuis te vind nie, maar op enige plek waar ’n mens hom of haar bevind – in die kantoor of tuis. “Ons kan nie vrede iewers elders gaan soek nie; al wat ons moet doen, is om vrede se vereistes na te kom en almal kan dit doen as hulle wil. Dis hoe mens begin genees en herstel.”
Hy vertel sy eerste werk as jong man het ondersoekwerk vir die Departement van Welsyn en Pensioene ingesluit. “Wat my getref het, was die een- dersheid in die simptome van mense en hul stories omtrent hul situasies. Ek het besef ou mense word siek as gevolg van hul gedagtes oor hul verlede en vrese vir die onsekerhede van die toekoms en dat daar ’n eendersheid in gedagtes en simptome is.
Smit bestempel sy boek as ’n “noukeurige maar gemaklike inleiding tot hoe geestesdenke werk” en sê dit is ideaal vir mense wat gesond wil word en bly asook vir studente van sielkunde, teologie of psigiatrie.
• Die Afrikaanse uitgawe kos R250 en die Engelse uitgawe R200. Die boeke kan per e-pos bestel word van pietertjieje@gmail.com. Die boeke is ook beskikbaar by die skrywer by die Grasbaalhuis, Le Rouxstraat 2 in De Rust.