Skilderagtige toer van Knysna na Calitzdorp

Die Karoo Crossing is ’n sirkelroete wat paaie van Knysna tot so ver as Calitzdorp verken. (Foto verskaf.)

DIE Wes-Kaapse premier, Alan Win-de, en sy minister van finansies en ekonomiese geleenthede, David Maynier, het verlede Woensdag (23 September) ’n vyfde fietsroete vir die Wes-Kaap, die Karoo Crossing, op Prins Albert bekend gestel.

Dié sirkelroete is die vyfde in die provinsie en begin by Knysna en eindig by Calitzdorp – of andersom. Dit neem fietsryers oor ’n afstand van 358 km, hoofsaaklik deur die senstrale en Klein Karoo.

Behalwe vir verskeie bekoorlike dorpe soos Prins Albert en De Rust waardeur die roete kronkel, sluit dit ook die pragtige Meiringspoort in en gaan dit verby rotstekeninge wat duisende jare oud is.

Volgens Maynier is die doel met die vyf fietsroetes om avontuurtoeris-me in die provinsie te bevorder en terselfdertyd besienswaardighede en ervaringe op klein dorpe en plattelandse gemeenskappe aan toeriste bekend stel.

Winde sê met die vyf fietsroetes wil hulle die toerismebedryf onder-steun aangesien dit ’n groot werkskepper in die provinsie is.

Goliath Lottering, Prins Albert se burgemeester, het die inisiatief verwelkom en gesê dit kan baie vir toerisme op die dorp beteken, veral as in ag geneem word hoe verwoestend die uitwerking van die inperking weens die Covid-19-pandemie vanjaar was.

Winde en Maynier het ook tien ­fietse aan die Prins Albert Gemeenskapstrust oorhandig om inwoners te help om makliker rond te beweeg om hulle so te bemagtig. Dit is deel van ’n projek waarby die Qhubeka Chari-ty, die Pedal Power Association en die Bicycling Empowerment Network betrokke is.