HOEWEL daar beslis vanjaar ’n afname in besoekers aan Oudtshoorn in vergelyking met vorige jare was, het die polisie steeds hul hande vol gehad met motorongelukke, dronkbestuur en ander misdade.
Die Hoorn het by die Oudtshoorn Polisie en munisipaliteit gaan aanklop vir amptelike terugvoer oor gebeure tydens die afgelope vakansietyd.
“Daar was 24 ongelukke in Oudtshoorn self in die tydperk van 1 Desember 2019 tot 14 Januarie, maar geen sterftes nie,” sê Ntobeko Mangqwengqwe, woordvoerder van die Oudtshoorn Munisipaliteit.
Dit is ’n afname in vergelyking met verlede jaar.
“Daar is ook vyf bestuurders in hegtenis geneem vir dronkbestuur of vir bestuur onder die invloed van dwelms.”
Kapt Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie, sê hul statistiek toon ’n geringe afname in misdaad in dié periode.
“Die dae voor Kersdag en Nuwejaar was egter besiger as die ander dae in die vakansie.”
Visser sê die polisie het die maksimum aantal polisiebeamptes tydens die vakansie ontplooi deur slegs ’n minimum aantal personeellede se verlof toe te staan.
“Daar is 1 025 mense in hegtenis geneem vir misdade wat wissel van gering tot ernstig, en twintig mense vir bestuur onder die invloed van drank.”
Nege padblokkades is gehou met 205 voertuigbeheerpunte.
Brig Levona Januari, stasiebevelvoerder van die Oudtshoorn Polisie, het die polisiebeamptes bedank vir hul harde werk tydens die besige vakansietyd.
“Die druk was erg en daar was meer as 1 000 klagtes tydens die tydperk aangemeld en bygewoon.
“Ons poog altyd om so vinnig as moontlik almal te help, maar dit is ongelukkig nie altyd moontlik nie,” het sy gesê.
Feestyd ‘stiller’ op die dorp
