14 spanne in 2 vlakkiekrieket-toernooie

Die Barmy Army saam met pastoor Alfred Pieterse (middel voor).


INFORMELE krieket, bekend as Vlakkiekrieket, is besig om al hoe gewilder te raak op Oudtshoorn met veertien spanne wat die afgelope naweek aan twee toernooie deelgeneem het.

Die Top 8-liga wat deur die Oudtshoorngemeenskapspolisiëringsforum (GPF), die Oudtshoorn Munisipaliteit en die Jeugkantoor van die munisipaliteit aangebied word, het Vrydag afgeskop met agt spanne wat kragte gemeet het op oop ruimtes langs Eerstelaan in Bongolethu en langs Dassie-weg agter Saturnus Primêr.

Op ’n stuk grond langs Elandweg, bekend as Die Gat, het ses spanne mekaar die stryd aangesê in ’n toernooi wat deur pastoor Alfred Pieterse gereël word om jongmense met sport besig te hou.

Die eindstryd word beplan vir Sondag, 2 Februarie 2020.

Die spanne wat aan die GPF se Top 8-toernooi deelneem, is Polisiehoogte, Dare Devils, Silvertown Stars, Evolution Stars, Askamp, Roses United, Super Kings en Hungry Lions.

Volgens Phillip Seroux en Pat Blaauw, die koördineerders, sal die liga die naweek voortgesit word met die eindstryd wat ook op 2 Februarie gespeel sal word.

Die ses spanne wat in Die Gat teen mekaar speel is die Major Boys, Team Players, Dondolas, Dream Eleven, Barmy Army en Kellerprinz.

Volgens die organiseerders bly finansies ’n kopseer omdat die grootste aantal deelnemers werkloos is. Die organiseerders sê dit sal waardeer word indien sakelui of individue ’n bydrae kan lewer vir bv uitrusting en toerusting asook trofees vir die wenners en naaswenners.

Volgens Seroux is ’n verdere doelwit van die vlakkiekrieket om die belowendste van die spelers by gevestigde krieketklubs ingeskakel te kry.

Volgens hom is daar baie talent wat net ont-wikkel moet word.

Pieterse kan by 063 324 9321 en Blaauw by 071 520 9231 gekontak word. (Deur Garnett Wicomb)