Aksie tydens Saterdag se 7Weekspoort Bergfietsbyeenkoms. Foto: ZC Marketing Consulting
Deur Higgo Jacobs
Yolande de Villiers was Saterdag weer die vrouewenner van die Ladismith Kaas 7Weeksport Bergfietsren oor 85 km. Haar wentyd was 3:15:28.
Sy was algeheel elfde en het die meeste mans die hakskene gewys!
Deelnemers aan die bergfietsrenne het Saterdagoggend op Amalienstein tussen Calitzdorp en Ladismith weg-gespring. Die roetes het deur die skilderagtige Seweweekspoort en die Hoekovallei gelei en op die skouterrein van Ladismith geëindig.
De Villiers het dié ren ook verlede jaar gewen. Sy was verlede maand saam met haar maat, Kevin Taljaard, ook onder die gemengde pare die naaswenner van die Cape Pioneer Trek Multiskofbergfietsren.
Wat haar prestasies merkwaardig maak, is dat sy einde April vanjaar by die Trek2Teebus-bergfietsren in die Karoo in ’n ernstige fietsongeluk betrokke was waarin sy haar been gebreek het.
Nicol Carstens was in 2:52:04 die manswenner van Saterdag se ren met Marco Joubert (2:52:06) tweede en Robert Jankielsohn (3:04:35) derde.
Tristan Nortjé was in 1:20:58 die manswenner van die 43 km-ren en Nico Bester (1:26:06) die naaswenner. Teresa Bester was oor dié afstand die vrouewenner in 1:50:22 en Anel van Wyk die naaswenner in 1:50:24.
John April het in 2:00:01 die 29 km-padwedloop gewen met Underson Wcube (2:07:25) die naaswenner. Die eerste vrou oor die wenstreep was Jacolet van der Berg (2:33:59).
Volgens Carel Heroldt van Dryland Event Management het sowat 1000 fietsryers Saterdag opgedaag vir die 7weekspoort Uitdaag wat vanjaar vir die 17de keer aangebied is.