Yolande trap struikelblokke plat, word weer kampioen!

Yolande met haar goue medalje. (Foto verskaf)

Bo: Yolande de Villiers in aksie. Sy het Saterdag koning gekraai by die 2021 South African Cross-Country Marathon Championships. Foto: Chris Hitchcock

OM Saterdag 1 Mei as die wenner van die 2021 South African Cross-Country Marathon Championships (SAXCMC) gekroon te word, was nie net vir Yolande de Villiers (48) van Oudtshoorn ’n bewys dat dit steeds “in haar broek sit” om kompeterend fiets te ry nie, maar ook die bewys dat wonderwerke kan gebeur.

Haar oorwinning in die kampioenskap – wat oor 85 km in Paarl in die Kaapse Wynlande gehou is en waartydens fietsryers 2 100 m geklim het (met die meeste binne die eerste 50 km) – was die hoog­tepunt van ’n tweejaarlange stryd teen ’n besering aan haar linkerbeen wat moontlik haar loopbaan sou kon beëindig.

De Villiers was 1 Mei 2019, presies twee jaar voor Saterdag se oorwinning, tydens die Build It Trek2Teebus-berg­fietswedren by Steynsburg in ’n ongeluk betrokke en het haar tibia (skeenbeen) op vier plekke gebreek.

Sy vertel dat sy en haar spanmaat, Neill Ungerer, deur ’n soort watertonnel moes ry, wat aan die einde ’n skerp draai by ’n metaalreling gehad het. “Toe ons onder in die tonnel kom, was dit basies ’n dood­loop, die draai was nie mooi gemerk nie.

Ons het teen 75 km/h deur die tonnel gekom en ek moes baie vinnig rem. My fiets het gegly en ek is teen die reling vas – volspoed teen my tibia,” onthou sy. Sy sê sy sou sowat 30 m geval het as die re­ling haar nie gekeer het nie.

Haar besering was so erg dat sy nie net gedink het haar loopbaan is verby nie, maar daar was ook die kans dat sy haar been sou verloor. Die been is tydens ’n operasie met skroewe en drade aanmekaar geheg.

Selfs dít kon De Villiers nie keer nie. Sy het tussendeur steeds aan wedrenne deelgeneem, en selfs sommige van hulle gewen.

“Maar ek kon voel iets is nie reg nie, en op 2 Junie 2020 is ’n tweede operasie op my gedoen. Die been was skeef en het nie mooi aangegroei nie,” vertel sy.

Maar oefen het sy bly oefen. Met drade en skroewe wat haar been aanmekaar gehou het, het De Villiers 4 000 km in drie maande op ’n “fatbike” gery, wat spesiaal aangepas is vir haar spalk om nie aan die fietsraam vas te haak nie.

“Al was daar baie struikelblokke in my herstel en my pad na die kampioenskap, het hierdie duisende kilometer vir my ’n goeie fondament gebou. Ek het ook ’n afrigter gekry na byna 15 jaar wat ek op my eie geoefen het. Dit het baie gehelp, maar fisiek en geestelik was dit baie moeilik.”

Dié kranige fietsryer erken dat die oorwinning in Saterdag se kampioenskap baie belangrik was vir haar selfvertroue – “om net weer te wys ek het dit nog,” sê sy. Sy bieg dat genade, gebede uit talle oorde, en ’n dr Naidoo by die Life Queens­town Privaathospitaal kardinaal in haar herstel was.

“Toe ek Dr Naidoo bel en hom vertel ek het gewen, het hy self in trane uitgebars. Ek is bitter bly en baie dankbaar dat ek hierdie een kon wen!”

De Villiers, wat vir die Altes Landhouse Powered by Mad Macs Kawasaki-span ry, moes die naweek teen bekende fietsryers soos Robyn de Groot, Hayley Preen en Amy McDougall deelneem. De Groot het wel eerste oor die wenstreep gery, maar wedrenbeamptes het met die nasien van haar GPS-data gevind dat sy iewers ’n verkeerde draai gemaak en 5 km van die roete uitgesny het.

“Ek, Robyn en Amy het byna dadelik weggebreek van die res af. Na ’n rukkie was Robyn voor, maar ons kon haar heeltyd sien. Toe ewe skielik was sy weg. Ek weet nie hoe sy die roetemerkers gemis het nie, maar sulke goed gebeur,” sê De Villiers.

Volgens De Villiers is hierdie soort wed­renne haar gunsteling. “Hoe langer en hoe tougher hulle is, hoe beter. Hierdie een was baie tegnies; ons moes baie klim, op single tracks ry, en oor bruggies. Ek vat sulke wedrenne maar van waterpunt tot waterpunt, anders raak dit te veel.” (Deur Stefan Skapie Goosen)