Yolande de Villiers (regs) jaag saam met die mansvoorlopers deur Seweweekspoort tydens Saterdag se Ladismith Kaas 7-Weekspoort-bergfietsren.
Deur Higgo Jacobs
Yolande de Villiers het Saterdag nie net die vroue-afdeling van die Ladismith Kaas 7Weeks- poort Bergfietsren oor 85 km gewen nie, maar was ook algeheel derde.
De Villiers het slegs 1 min 35 sek na die mans-wenner, David Garrett van Durbanville, oor die wenstreep gejaag. Haar tyd van 3:01:02 was slegs ’n sekonde stadiger as die mansnaaswenner, Jan-Paul Gerber. Kobus Barnard (3:07:40) van Oudts-hoorn was die derde mansryer oor die eindstreep.
Die SA Vrouemarathonfietsrykampioen, Robyn de Groot, was die naasvrouewenner. Dit was De Groot se eerste deelname nadat sy weens ’n besering ’n tyd lank nie mededingend gery het nie.
Meer as 600 fietsryers het vanjaar deelgeneem aan die 7Weekspoort waarvan die roete op Zoar begin, deur Seweweekspoort en Hoeko lei en op Ladismith eindig.
Die wedren word oor drie afstande, 29km, 43 km en 85 km, beslis.
Kerighan Aries (1:12:52) van Oudtshoorn was die seunswenner van die 29 km-afdeling en Alissa Coetzer (1:33:23) die meisieswenner.
Leon Classen (1:36:36) was die manswenner in die 43 km-afdeling met Robert Swart (1:44:56) van Oudtshoorn in die tweede plek. Rozanne Mouton (2:03:29) was die vrouewenner in dié afdeling.
Die 7Weekspoort, wat Saterdag die 15de keer plaasgevind het, het vanjaar vir die eerste keer ’n afdeling vir laerskolespanne gehad oor 29 km. Die span van die Laerskool Outeniqua het hierdie spankompetisie gewen.
Carel Herholdt van Dryland Event Management het sy tevredenheid met die skole afdeling uitgespreek.
“Meer as 200 laerskoolleerders van sover as Oos-Londen het deelgeneem en die geleentheid gekry om oor ’n lang afstand op hul bergfietse deel te neem. Marathonfietsry is verreweg die gewildste bergfietsdissipline,” het hy gesê.