Deur Wyndham Ewerts
Dysselsdorp se krieketspan het Saterdag op die Bongulethu Sportgronde vriend en vyand verras deur Western Hope in ’n SWD Twintig20-krieketwedstryd pak te gee.
Met sy oorwinning het Dysselsdorp die enigste promosieligaklub geword wat na die kwarteind-ronde van die SWD Twintig20-reeks deurdring.
Western Hope was die gunsteling om Saterdag vir die kwarteindronde te kwalifiseer, maar moes al drie sy wedstryde van die dag wen.
Western Hope het in sy eerste twee wedstryde onderskeidelik vir Hartenbos en Ladismith maklik geklop.
Toe kom steek Dysselsdorp egter in die laaste wedtryd van die dag ’n stokkie voor Western Hope se wenplanne deur die wedstryd gemaklik met 8 paaltjies te wen.
Western Hope het eerste gekolf en is uitgeboender vir slegs 97 lopies in sy toegelate 20 boulbeurte. Veral Elroy Potgieter van Dysseldorp het uitgeblink met die bal en drie paaltjies laat kantel vir slegs 15 lopies.
In sy beurt het Dysselsdorp se openingskolwer, Vernon Visagie, 73 lopies gemoker om omtrent manalleen vir sy span ’n oortuigende oorwinning met 8 paaltjies staande te verseker.
Dysselsdorp speel Saterdag (7 Oktober) vanaf 10:00 in sy kwarteindstryd teen George op die Rooirivierrif-krieketveld op George.