William Malgas lui die klok in die klubhuis van Oudtshoorn Gholfklub wat ’n gholftradisie is as jy ’n kolhou geslaan het. Die lui van die klok beteken ook dat die betrokke speler ’n ronde drankies vir almal teenwoordig moet betaal. Sommige gholfspelers neem selfs versekering uit om hulle teen dié moontlike gebeurlikheid te beskerm. Foto: Higgo Jacobs
Deur Higgo Jacobs
William Malgas se gholfdroom het Woensdag, 4 September, waar geword toe hy sy eerste kolhou op Oudtshoorn se baan op die 8ste putjie geslaan het.
“Ek was menigmaal al so naby die pen, maar kon nog nooit my naam op die bord van dié uitgelese groep gholfspelers kry nie,” het ’n baie opgewonde Malgas ná die tyd gesê.
Wat Malgas se kolhou merkwaardig maak, is dat hy in Desember 2017 in ’n ernstige motorfietsongeluk buite Zoar betrokke was en lank in die waakeenheid van die Mediclinic George gelê het.
Hy kon vir langer as ’n jaar nie gholf speel nie en het maar eers weer vanjaar sy stokke afgestof en begin speel! Malgas speel tans op ’n voorgee van 3.