ONDER vanjaar se deelnemers aan die Attakwas Uitdaagbergfietsren is ’n tuinwerker en ’n plaaswerker, albei van die Suid-Kaap.
Patrick Liwonde, ’n tuinwerker van Friemersheim noord van Groot-Brakrivier, wat verlede jaar vir die eerste keer aan die Attakwas deelgeneem het, gaan dit weer aanpak.
Liwonde het jare lank gesien hoe die wêreld se top-fietsryers verby die informele nedersetting ry waar hy woon. As ’n tuinier het hy sy fiets gebruik om werk toe te ry wat hom fietsryfiks gemaak het.
Met behulp van ’n goeie vriend, John Cable, het Liwonde verlede jaar by die beginpunt aangetree met ’n valhelm wat beter dae gesien het, ’n enkelspoedfiets en All Star-tekkies.
Vasbeslote om sy slag te wys, het Liwonde dié moordende 121 km-wedren in ’n merkwaardige tyd van 8:14:42 voltooi veral inaggenome sy fiets.
Liwonde neem vanjaar met ’n splinternuwe bergfiets en die regte toerusting deel.
Sy inspirerende storie het ander in die omge-wing gemotiveer om ook fietsry as ’n sport te begin beoefen. Een van hulle is Jarlow Mongo, ’n plaaswerker wat vanjaar vir die eerste keer aan die Attakwas deelneem.
Mongo werk sedert hy skool verlaat het by die Louvain-gasteplaas aan die noordelike hange, van die Outeniquaberge suid van Oudtshoorn waar hy nou een van die sleutelpersone is en help om die plaas te bestuur.
Hoewel hy nog altyd in fietsry belanggestel het, kon hy weens finansiële redes dit nooit as ’n sport beoefen nie. Met die ondersteuning van kollega Michael Wood en ’n mede-eienaar van Louvain, Hein Jonker, wat albei fietsryers is, het Mongo sy eerste fiets verlede jaar gekry.
Nadat Wood en Jonker besluit het om in te skryf vir vanjaar se Attakwas, het hulle Mongo oortuig om dieselfde te doen.
Die organiseerders, Dryland Event Management, het gehoor van Mongo en vir hom ’n gratis inskrywing aangebied. “My droom is bewaarheid! Aan die een kant sien ek uit na die wedren en aan die ander kant voel ek skrikkerig nadat ek YouTube-video’s gekyk het en gesien het hoe moeilik dit gaan wees.
“Dit is vir my ’n eer om deel te neem en ek is dankbaar dat ek ’n voorbeeld aan ander kan stel. Ek weet dit gaan moeilik wees, maar ek sal die grootste glimlag op my gesig hê wanneer ek oor die eindstreep ry,” het Mongo gesê.