
Aksie tydens 2015 se Fairview Attakwas Extreme Uitdaagren.
VAN die wêreld se heel beste bergfietsryers neem Saterdag aan die elfde Attakwas Extreme-uitdaagren tussen Oudtshoorn en Groot Brakrivier deel.
Dié ren oor 121 km, wat 2900 meter klimwerk insluit, lei oor die Outeniquaberge en word as die taaiste ultra-eendagbergfietsren in Suid-Afrika beskou.
Die meeste nog professionele ryers gaan Saterdag deelneem. Altgesame sowat 1100 bergfietsryers het vir die wedren ingeskryf.
Die wedren begin Saterdag om 06:30 by Chandelier Wildplaas en eindig by Pine Creek Vakansie-oord naby Groot Brakrivier.
Onder die topdeelnemers is:
• Annika Langvad van Denemarke, ’n driemalige wêreldmarathonkampioen in bergfietsry. Sy het die Cape Pioneer Trek in 2013 gewen en het ook al drie keer die Cape Epic gewen. Sy is voorts die huidige Cross Country-wêreldkampioen;
• Christoph Sauser van Switserland, wat die Attakwas al twee keer en die Cape Epic al vyf keer gewen het. Hy het ook ’n bronsmedalje by die Olimpiese Spele ingepalm; en
• Karl Platt van Duitsland wat die verdedigende Attakwas-kampioen is en die Cape Epic al vyf keer gewen het.
• Kristian Hynek van Tsjeggiese Republiek, wat ook ’n voormalige Epic-wenner is.
Van Chandelier lei die roete suidwaarts op die Mount Hope-tweespoorpad deur die Doringrivier- natuurreservaat en oor die R328-roete tussen Oudtshoorn en Mosselbaai, wat ’n goeie uitkykpunt vir toeskouers is. Die roete lei dan suidwes oor die Outeniquaberge, deur die Attakwaskloof waarna dit naby Eight Bells Country Inn weer by die R328 aansluit. Daarna draai hulle links op ’n grondpad af en ry tot by die wenstreep by Pine Creek.
• Die wenners van die Attakwas het die afgelope twee jaar ook die Cape Epic gewen.
Platt word deur baie as die gunsteling beskou om Saterdag weer te wen, maar hy kan sterk teenstand van Sauser verwag. Sauser maak Saterdag sy terugkeer tot bergfietsry ná ’n afwesigheid van ’n jaar.
Onder die voorste Suid-Afrikaanse ryers wat gaan deelneem, is Dylan Rabello, Waylon Woolcock, HB Kruger, Gert Heyns, Max Knox en Erik Kleinhans.
Onder die vroue word taai mededinging tussen Langvad, Robyn de Groot van Suid-Afrika, wat verlede jaar se Attakwas gewen het, en Ariae Lüthi van Switserland verwag. Lüthi het die Attakwas al drie keer en die Cape Epic vyf keer gewen.
Ashleigh Moolman-Pasio, wat aan die Olimpie-se Spele deelgeneem het, is ook een van die plaas-like ryers. Sy is bekend as ’n padfietsryer, maar het besluit om vanjaar die Attakwas aan te durf.
• Fietsryers van Oudtshoorn wat gaan deelneem, is Yolandé de Villiers, Kobus Barnard, Fienie Barnard, Charl du Plessis, Jacques Terblanche Radie Loubser, Frikkie Jonck, Piet Strydom, Hannes Myburgh, Yolandé Myburgh, André du Preez, Peter Liebenberg, Loderia Viljoen, Jurie Viljoen, Anru de Wet, Izak Boshoff, Francois Marais, Coenraad Kemp, Hans van der Veen en Louis Visser.