Wedvlugduiwe vlieg weer

DIE Oudtshoorn Posduifklub (OPK) se lede kon Saterdag (31 Julie) uiteindelik weer hul wedvlugduiwe loslaat, hierdie slag op Hopetown in die Noord-Kaap, op die rand van die Groot Karoo.

Om soontoe toe te ry, met die N12, padlangs 550 km ver, neem ’n mens minstens so vyf tot ses uur. Wedvlugduiwe verkort die afstand na tussen 473 en 481 km.

Die dorp is geleë op ’n dor helling wat na die Oranjerivier lei, en die eerste diamant wat in Suid-Afrika ontdek is, die Eureka-diamant, is daar gevind.

In die OPK se Jaaroudafdeling het George Erasmus se duiwe aldrie byna die top-drie plekke behaal, maar ’n enkele duif van die Ockie@Abe-span het hulle gekortwiek en tweede-plek behaal.

Twee van Klein Karoo Lofts (KKL) se duiwe het saam met een van die Raubenheimer Broers s’n die Ope-afdeling se top-drie plekke be­klee.

Volledige Jaaroudafdeling-uitslae: Erasmus – 1, 3, 4, 8, 12, 16, 18 en 24; Ockie@Abe – 2, 6, 14 en 25; Raubenheimer Broers – 5, 9, 10, 11, 15 en 26; Johan de Jager – 7, 19, 20, 21, 22 en 23; en KKL – 13 en 17.

Volle Ope-afdeling-uitslae: KKL – 1, 2, 9, 11, 15, 21, 25 en 26; Raubenheimer Broers – 3, 6, 7, 8, 16, 19, 29 en 30; De Jager – 4, 13, 14 en 27; Erasmus – 5, 12, 18, 20, 22, 23, 24 en 28; en Ockie@Abe – 10 en 17. (Deur Stefan Skapie Goosen)