Vlakkiekriekettoernooi skop af

Die spanne van Dysselsdorp en Prostars na hul wedstryd op Dysselsdorp. Foto: Garnett Wicomb

Die 2024 T20 OPL vlakkiekriekettoernooi het Sondag afgeskop met wedstryde wat op Oudtshoorn, Dysselsdorp en De Rust gespeel is met tien spanne wat vanjaar mekaar die stryd aansê.

Die toernooi word deur die Eden Rainbow Development Projects aangebied wat Sondag ook krieketpaaltjies aan die span van Dysselsdorp oorhandig het. Hungry Lions is die vroeë voorlopers met sewe punte op die punteleer met Prostars en Legends, elk met ses punte, onderskeidelik tweede en derde.

Hungry Lions het Sondag in sy tweede wedstryd gelykop gespeel teen Tornadoes met albei spanne wat 88 lopies aangeteken het.

Die spanne van Dysselsdorp en Firestones het in hul eerste wedstryd albei die onderspit gedelf. Dysselsdorp kon in sy kragmeting met Prostars net 85/9 aangeteken in antwoord op die 177/6 van die besoekers.

Firestone het sy wedstryd teen Spartans met 6 paaltjies verloor. Legends (66/6) het vir Hunters (65) met 4 paaltjies geklop terwyl Teamplayers (157) vir De Rust (95) met 62 lopies verslaan het.

Komende Sondag se wedstrydprogram is soos volg:
Teamplayers vs Spartans. 17de Laan. 14:00.
Dysselsdorp vs Hunters. Donkerhoek 14:00.
De Rust vs Tornadoes. De Rust 14:00.
Legends vs Prostars. Legends Park 10:30.
Hungry Lions vs Firestone. Legends Park. 14:00. (Deur Garnett Wicomb)