Virtuele Comrades: John 9de vinnigste in 90 km

Comrades: John landwyd 9de vinnigste oor 90 km! Oudtshoorn se John April het Sondag ’n stukkie geskiedenis gemaak toe hy aan die eerste virtuele Comrades-wedloop oor 90 km hier op Oudtshoorn in die negende vinnigste tyd wêreldwyd gehardloop het! Foto: Skermgreep van ’n video deur Hans van der Veen

John April en sy oefenmaat Charlissa Schultz, tydens Son­dag se wedloop.
Foto:
Hans van der Veen

Die Oudts­hoorniete (van links) Hennie van Greu­nen, Geraldine Lof­tie-Eaton, Rudolf Hattingh (agter), Sinead Hat­tingh en Linda Smit net voordat hul weggespring het. Foto verskaf

EN toe doen hy dit!

Oudtshoorn se langasem John April het Sondag ’n stukkie geskiedenis gemaak toe hy aan die eerste virtuele Comrades-wedloop sommer hier op Oudtshoorn deelgeneem en boonop die negende vinnigste tyd wêreldwyd aangeteken het!

John se mikpunt was om die wedloop in onder sewe ure te voltooi. Hy het Oudtshoorniete laat asem ophou oor die laaste 19 kilometer toe hy erge krampe in sy bene begin kry het, maar vir groot blydskap gesorg toe hy na 6 uur, 34 minute en 17 sekondes by die eindpunt by die Laerskool Wesbank aangekom het.

Die Hoorn was daar toe John die oggend seweuur op die R328 (Mosselbaaipad) buite Oudts­hoorn weggespring het en het deur die dag inwoners op die hoogte gehou nadat John die eerste 30 km in ’n baie haastige 1:54:09 afgelê het.

Weens die Covid-19-pandemie kon die uitmer­gelende Comrades nie vanjaar tussen Pieterma­ritzburg en Durban, plaasvind nie. Dus het die 95ste Comrades vanjaar ’n virtuele baadjie aangetrek, met meer as 40 000 deelnemers uit 103 lande wat aan vanjaar se virtuele Race The Comrades Legends-wedlope oor verskeie afstande deelgeneem het, sommer in hul tuisdorp of -land.

Deelnemers kon kies tussen afstande van 5 km, 10 km, 21,1 km, 45 km en 90 km, met verskeie Oudtshoorniete wat ingeskryf en deelgeneem het.

John, wat vir die Nedbank Atletiekklub hardloop, was verlede jaar Atletiek SWD se topatleet by die Comrades toe hy 115de in ’n tyd van 6:44:30 gekom het. Hy was nie van plan om vanjaar deel te neem nie, maar vertel twee ander atlete, Anderson Ncube en Bianca la Grange, het hom drie weke voor die virtuele wedren aangemoedig om deel te neem. Hy was bekommerd dat hy nie gereed sou wees nie.

Hy het voor die wegspring gesê hy was baie senuweeagtig, maar tog opgewonde. Hy het die 90 km op ’n sirkelroete van 13,5 km gehardloop – die Welgelukpad, Parkweg en die R328 (Mosselbaaipad).

“Ek was so moeg, maar ek het geweet dat as ek nie klaar maak nie, ek my span en ondersteuners sou teleurstel. Al voel ek die lang pad vandag nog aan my spiere, voel dit regtig goed om in die top-tien te wees,” het hy gister (Woensdag 17 Junie 2020) aan Die Hoorn gesê.

John is die hele wedren ondersteun deur Charlissa Schultz, wat langs hom op haar fiets gery het, terwyl oefenmaat Bianca hom vanuit ’n ondersteuningsvoertuig aangemoedig het. ’n Ondersteuner soos Anderson het saam met hom opge­warm en ’n totaal van 34 km saam met hom gedraf!

• Nog ’n groep Oudtshoorniete het die oggend om 06:00 in Hillstraat weggespring om hul virtuele wedlope te voltooi. Onder hulle was Sinead Hattingh wat ook die 90 km gehardloop het en in 14:32:26 voltooi het, Linda Smit (45 km in 7:22:42), Rudolf Hattingh (45 km in 7:22:42), Hennie van Greunen (21,1 km in 2:26:34) en Geraldine Loftie-Eaton (10 km in 1:22:44). (Deur Stefan Skapie Goosen en Liesel le Roux)