Van Reede-majorettes skitter met Protea-eer op pad na wêreldverhoog

Foto verskaf.

’n Groot oomblik van trots het die Van Reede-majorettes onlangs beleef toe agt van hul atlete en afrigters met Protea-kleure vereer is. Hierdie besondere erkenning volg op hul verkiesing om Suid-Afrika op die internasionale verhoog te verteenwoordig by die MWF Wêreldkampioenskappe in Katowice, Pole.

Die span vertrek Woensdag na Pole, waar hulle teen van die wêreld se beste majorettes sal meeding.

Hierdie geleentheid bied nie net ’n platform vir internasionale blootstelling nie, maar is ook ’n bewys van die hoë standaard wat by Van Reede gehandhaaf word.

Die ontvangers van hierdie gesogte eer is Chloé Barnard en Willisha Hendricks as junior-atlete, saam met Mbali Tyatya, wat ook in die junior-afdeling meeding. In die senior geledere verteen- woordig Willdene Piedt, Karishney Pikaan en Dané Mei die span met trots.

Die afrigtingspan bestaan uit Ronald Presher as junior-span-afrigter en Megan Presher as senior-spanafrigter.

Volgens ondersteuners en skoolgemeenskap is hierdie prestasie die resultaat van jare se harde werk, toewyding en dissipline. Die majorettes het ure se oefening ingesit om hul tegniek, presisie en spanwerk te verfyn. Hul sukses dien as inspirasie vir jonger leerders wat hul voorbeeld volg.

Die deelname aan die wêreldkampioenskappe is nie net ’n persoonlike prestasie vir elke lid nie, maar ook ’n groot eer vir die skool en die breër Oudtshoorn-gemeenskap. Dit plaas Van Reede se naam stewig op die internasionale kaart en bevestig hul status as ’n krag in die majorette-sport.

Die hele gemeenskap staan bankvas agter hierdie Protea-atlete en hul afrigters en wens hulle alle sukses toe vir die kompetisie. Daar heers groot opgewondenheid oor wat voorlê, en die hoop is dat hulle met waardevolle ervaring en moontlik selfs medaljes sal terugkeer.

Hierdie reis na Pole is die begin van nog groter prestasies vir hierdie talentvolle groep. (GRANWILLE GOLIATH)