Cape Pioneer skop af met uitdagende eerste skof

Foto: Oakpics

Die 2026 Momentum Medical Scheme Cape Pioneer bergfietswed-ren het Dinsdag, 22 September, amptelik afgeskop met ’n strawwe openingskof van 66 km tussen Wilderness en Louvain Gasteplaas.

Deelnemers moes die uitdagende Outeniekwaberge aandurf, met sowat 1 800 meter se klim wat reeds vroeg in die wedren hul krag en uithouvermoë getoets het.

In die mansafdeling het Marc Pritzen en Felix Stehli van Honeycomb 226ers hul klas gewys deur die skof oortuigend te wen met ’n voorsprong van 8 minute en 5 sekondes.

Hulle trek nou die gesogte geel leiers-truie aan. In die vroue-afdeling het Samantha Sanders en Sarah Maré van Efficient Infiniti Insure die voortou geneem en die skof in ’n tyd van 3:49:14 voltooi, met ’n indrukwekkende wenmarge van 16 minute en 32 sekondes. Hulle dra die pienk leiers-truie.

Vanjaar se roete bring ’n nuwe dimensie na die wedren, aangesien die tradisionele Swartbergpas weens infrastruktuurprobleme vermy word. Deelnemers word eerder deur tegniese voetheuwels en wildplase gelei, wat nuwe uitdagings en strategiese wedren-ry vereis.

Die tweede skof, wat Woensdag plaasvind, bestaan uit ’n 73 km-lus by Louvain met 1 500 meter se klim, insluitend die historiese ossewa-roete na Duiwelskop. Daarna volg ’n 92 km-oorgangskof dieper die Klein Karoo in, voordat plaaslike roetes rondom Oudtshoorn benut word.

Die groot eindstryd op Saterdag beloof ’n opwindende afsluiting met ’n vinnige 65 km-roete wat in die Oudtshoorn-sentrale sakekern eindig, insluitend die ikoniese Chandelier-enkelspoor. (GRANWILLE GOLIATH)

Be the first to comment on "Cape Pioneer skop af met uitdagende eerste skof"

Leave a comment

Your email address will not be published.


*