Oudtshoorn Toutrekklub maak indruk by wêreldkampioenskappe in Hartenbos

Foto verskaf.

Die Oudtshoorn Toutrekklub het hul merk gemaak tydens die onlangse Wêreld Toutrekkampioenskappe in Hartenbos, waar die klub met sewe spanne deelgeneem en waardevolle internasionale ervaring opgedoen het.

Die kampioenskappe het van die wêreld se beste toutrekspanne en -trekkers gelok, wat die kompetisie besonder straf gemaak het.

Vir die Oudtshoorn-spanne was dit ’n groot uitdaging, maar ook ’n geleentheid om hul vaardighede teen top internasionale teenstanders te toets. Ten spyte van die hoë vlak van mededinging, het die klub met trots deelgeneem en elke span het hul beste gelewer.

Die 680 kg-span het dit veral moeilik gevind om teen die wêreld se voorste spanne te kompeteer.

Die situasie is verder bemoeilik deurdat Oudtshoorn drie van hul sterkste trekkers aan Suid-Afrikaanse spanne afgestaan het, wat beteken het dat hulle nie op volle sterkte kon deelneem nie.

Nietemin het die span uitstekende deursettingsvermoë getoon en daarin geslaag om ’n oorwinning te behaal, terwyl geen teenstander dit maklik gevind het om hulle te oorrompel nie.

Die 580 kg gemengde span het ’n besonder sterk vertoning gelewer deur sewende uit tien spanne te eindig. Hulle het onder meer ’n oor-sese span geklop, een wedstryd gelykop getrek en ook ’n Suid-Afrikaanse span verslaan. Hierdie prestasie word as ’n groot sukses beskou en bevestig die span se vermoë om op internasionale vlak mee te ding.

In die 640 kg-afdeling het die twee Oudtshoorn-spanne hard geveg, al het hulle nie hul beste resultate behaal nie. Die feit dat selfs Suid-Afrikaanse spanne net-net voor hulle geëindig het, toon hoe kompeterend hierdie afdeling was. Die klub bly egter tevrede met die ervaring en blootstelling wat die trekkers opgedoen het.

Die 560 kg junior span was die uitblinker van die kampioenskappe vir Oudtshoorn. Hierdie jong span het uitstekend gevaar en was slegs een trek weg daarvan om die finaal te haal.

Hulle het derde in hul uitdunne geëindig – ’n indrukwekkende prestasie teen sterk internasionale teenstanders en ’n aanduiding van groot potensiaal vir die toekoms.

Die 500 kg vrouespan het ook hul kant gebring. Die span het ’n unieke internasionale samestelling gehad, met twee deelnemers van Nederland en een van Tsjeggië wat saam met Oudtshoorn se vroue getrek het. Alhoewel die kompetisie taai was, het die span deurgaans vasgebyt en bewys dat hulle nie maklik verslaan word nie. Oudtshoorn moes ook van hul vroulike trekkers aan nasionale spanne afstaan.

Die 520 kg junior gemengde span het met groot entoesiasme deelgeneem en waardevolle ervaring opgedoen deur teen verskeie spanne te trek. Hierdie blootstelling sal ongetwyfeld bydra tot hul ontwikkeling as toekomstige sterre van die sport.

Die klub is ook trots op vier lede – Amelia Lubbe, Hans Schutte, Francois Naude en Aidan Vorster – wat Suid-Afrika tydens die kampioenskappe verteenwoordig het. Lukas Lubbe was deel van die voorlopige groep, maar het ongelukkig nie die finale span gehaal nie.

Volgens die klub gaan die waarde van die kampioenskappe verder as medaljes. Die ervaring om teen wêreldklas teenstanders mee te ding, word as ’n groot oorwinning beskou en sal die klub help om verder te groei en te ontwikkel.

Oudtshoorn Toutrekklub bedank al hul trekkers, afrigters, ondersteuners en borge vir hul bydrae. Die klub keer huis toe met nuwe selfvertroue, kosbare ervaring en ’n sterk motivering om voort te bou op hul sukses. (GRAWILLE GOLIATH)

Be the first to comment on "Oudtshoorn Toutrekklub maak indruk by wêreldkampioenskappe in Hartenbos"

Leave a comment

Your email address will not be published.


*