Van krieket tot onderhoude moker Dill-Bill sesse vir die gemeenskap

Dillan Moos (links), stigterslid van Dill Bill’s Krieket-akademie, voor sy skootrekenaar by die huis waar hy deesdae meer tyd bestee as gewoontlik. Foto: Stefan Skapie Goosen Caitlin Williams (regs) voer deesdae die onderhoude namens Dill Bill's Krieketakademie.

OM in die tyd van ’n pandemie relevant te bly as krieketakademie – veral met sport in die algemeen wat op ’n aan-en-af-basis beoefen mag word – is ’n moeilike, byna onmoontlike taak.

Vra gerus vir Dillan Moos, stigterslid van Dill-Bill’s Krieketakademie op Oudtshoorn.

Maar met ’n bietjie deursettingsvermoë, kreatiwiteit, en ’n never say die-houding, het Moos juis hierdie taak vermag, en maak hy deesdae naam in die gemeenskap as onderhoudvoerder saam met sy span, met sy eie Facebook- en YouTube-kanaal.

Dillan het sy akademie oorspronklik op die been gebring weens sy passie vir krieket. “Ek het in ’n krieket-huis grootgeword waar albei my ooms krieket gespeel het.

“Ek het eintlik in ’n skaduwee geleef, maar hoe ouer ek geraak het, hoe meer het die passie vir die spel gegroei,” vertel hy.

Hy het self krieket gespeel op Oudtshoorn, eers op laerskool, toe hoërskool, vir die SWD-skolespan as all-rounder en later by die bekende Union Stars Krieketklub.

Dillan het ná skool op Wellington selfs sportbestuur gaan studeer en daar krieket gespeel – so sterk was sy passie vir die spel. “Sport is nog al die pad deel van my lewe.”

Dit was toe hy terugkeer Oudtshoorn toe, en as intern by die Wes-Kaapse sport en rekreasie-departement aansluit dat sy idee om ’n akademie op die been te bring uiteindelik meer van sy aandag gekry het.

“Dit het eintlik lank aan my geknaag, maar ’n mens wik en weeg maar altyd of so iets sal werk of nie. Toe sien ek daar is plek in die gemeenskap vir so ’n akademie, en in 2019 toe word Dill-Bill’s gebore,” sê Dillan.

Die hoofdoel van die krieket-akademie was volgens Dillan om terug te ploeg in die jonger emeenskap, veral kinders wat uit minderbevoorregte areas kom.

“Nie almal is bevoorreg om krieket te kan speel nie, want soms kan dit ’n duur sport wees om te beoefen.”

Sedert die akademie op die been gebring is, en voor die Covid-19-pandemie op die wêreld neergesak het, het Dillan reeds informele kriekettoernooie gehou, en met skole begin werk waar moontlik.

“Ek maak nie uitsonderings nie, ek gaan na enige skool toe. Covid het dit nou baie moeilik gemaak om enige krieketklinieke te hou, en dit gaan bietjie stil en stadig, maar ons gaan aanhou. Die videos kom nou juis hieruit – ek moes ’n manier vind om Dill-Bill’s se naam relevant te hou.”

Dillan vertel hy het verlede jaar heel bedroef by die huis gesit en gedink oor wat hy kon doen om aan die gang te bly.

“Ek en my bestuur het vergader om met ’n plan na vore te kom, en eers moes ons mooi dink oor die interviews, want hoe kom die twee bymekaar? Maar, daar is altyd ’n manier, en ons het onderhoude met krieketspelers begin doen. Glenton Stuur­man, Oudtshoorn se eerste Protea-speler, was my eerste onderhoud, nog voor hy die span gehaal het!”

Sedertdien groei die aantal onderhoude en aanhangers van die onderhoude video vir video.

Volgens Dillan kan jong mense van die gemeenskap videos van hul helde kyk, na hul stories luister en moontlik ook raad ontvang van hoe om hul eie krieketloopbane op die been te bring.

“Hulle kan luister na Glenton, of Marcello Piedt of Rhupino Plaatjies en hoe hulle gekom het waar hulle vandag is.

“Maar dis nie al nie, dis net hoe ons die akademie en die onderhoude bymekaar gebring het. Ons het toe verder besluit om nie net sportmanne en sportvroue te teiken nie, maar mense uit alle dele van die gemeenskap; van dokters tot prokureurs – almal is daar, en almal het hulle eie stories.

Alles gaan oor ontwikkeling van een of ander soort,” sê hy opgewonde.

Volgens Dillan is dit nie net die gemeenskap wat positiewe terugvoer gee oor die onderhoude nie, maar die mense waarmee hy onderhoude voer raak ook opgewonde. Gaan kyk self na wat hulle vermag. (Deur Stefan Skapie Goosen)