Vaardigheidskool-leerders presteer in sport, hou skool se naam hoog

Voor van links is die Oudtshoorn Vaardigheidskool se sportsterre: Maryke Witbooi (17), Miché Horsban (16), Xhanti Mcunukelwa (17) en Juwayne Adams (17). Agter is hul verskeie afrigters. Van links is Lené Smuts, Desireé Dickason, Elrico Andrews en Cornay Rabie. Foto: Stefan Skapie Goosen

DIE Oudtshoorn Vaardigheidskool in Langenhovenweg het tot dusver vanjaar atlete uit die boonste rakke opgelewer. Vier van hul leerlinge is vanjaar opgeneem in provinsiale- en distrikspanne.

Maryke Witbooi (17), Miché Horsban (16), Xhanti Mcunukelwa (17) en Juwayne Adams (17) het almal die skool, dorp en distrik se naam hoog gehou met hul insluiting en deelname in sport.

Miché en Maryke is volgens die skool se netbalafrigter, Desireé Dickason, opgeneem in die SWD ELSEN (Onderwys vir leerders met spesiale onderwysbehoeftes) netbalspan nadat sewe meisies van die Oudtshoorn Vaardigheidskool vroeër in Mei aan proewe deelgeneem het op George, by Van Kerwelskool.

“Hulle sal nou op 21 Mei deelneem aan die Wes-Kaapproewe. Daarna sal hulle nasionaal kan deelneem. Die eerste kompetisie waaraan hulle gaan deelneem vind tydens die Junie-vakansie plaas,” sê Dickason.

Die skool is baie trots op Miché en Maryke, sê Dickason. “Hulle sit baie moeite in en oefen baie hard!”
Maryke is ook ’n Wes-Kaap-atleet.

Xhanti is onlangs in die Oudtshoorn sokkerspan opgeneem wat binnekort aan die winterproewe op George gaan deelneem om moontlik opgeneem te word in die Eden-span. Daarna, indien hy suksesvol is, sal hy aan provinsiale proewe kan deelneem.

Op sy beurt is Juwayne ’n Wes-Kaap atleet wat die skool en provinsie onlangs verteenwoordig het. Hy is ook ’n rugbyspeler vir die skool se eerste span. (Deur Stefan Skapie Goosen)