HOEWEL Union Stars Krieketklub se eerste span Sondag in ’n SWD Premierligawedstryd ’n onverwagse nederlaag teen Harlequins gely het, loop hulle steeds voor in die SWD Premierliga.
Harlequins het Sondag eerste gekolf en Union Stars vir slegs 84 lopies in 5,3 boulbeurte uitgehaal. Hulle het daarna die wenteiken van van 85 lopies met slegs 4 paaltjies plat behaal.
Union Stars kom nou Saterdag teen Mosselbaai op die Bridgton Sportgronde te staan. Union Stars durf nie op hul louere rus nie, want Mosselbaai, wat tans vyfde op die punteleer is, sal alles uithaal om die wedstryd te wen, want sodoende kan hulle nog ’n plek in die uitspeelrondes behaal.
Western Hope, wat vierde op die punteleer is, se wedstryd teen Pirates United, wat tweede lê, is ook van deurslaggewende belang aangesien Pirates net vyf punte meer as Western Hope het.
Nog ’n belangrike wedstryd is Harlequins, wat derde op die punteleer lê, teen George. Harlequins sal graag die wedstryd wen om hul posisie verder te verbeter.
Die huidige puntestand in die SWD Premierliga is Union Stars met 52 punte, Pirates United met 42, Harlequins, ook met 42, Western Hope met 37 en Mosselbaai met 32.