Carol Ann kry veloorplanting

Lede van die Christian Motorcycle Association op George saam met Carol Ann van Rensburg. Die groep het haar Sondag besoek.      Foto: Ansie van Rensburg

Lede van die Christian Motorcycle Association op George saam met Carol Ann van Rensburg. Die groep het haar Sondag besoek. Foto: Ansie van Rensburg

Deur Ilze-Mari Gründling
Die 19-jarige Carol Ann van Rensburg van Oudtshoorn was Dinsdag­aand in die teater vir ’n vel­oorplanting op haar voet en been.

Carol Ann is verlede Dinsdag (31 Januarie) ernstig beseer is toe sy op haar bromponie deur ’n bestuur­skoolvragmotor getref is. Haar lin­kerknie is in die botsing vergruis en sy het ook ’n gedeelte van haar kuitspier verloor.

Carol Ann is eergister van die George Hospitaal na die Geneva MediClinic op George oorgeplaas waar die veloorplanting op haar gedoen is.

“Sy het geweldig pyn. Ons behoort eers teen Maandag te weet of die oorplanting suksesvol was,” sê haar ma, Ansie van Rensburg.

“Die dokter sê haar vergruisde knie lyk goed, maar hoewel die stamp teen haar kop nie breinskade veroorsaak het nie, het dit nogtans letsels gelos.”

Me Van Rensburg sê Carol Ann kon ook nog nie met fisioterapie begin nie omdat sy te veel pyn het.

“Haar gemoed is ook nie lekker nie. Haar linkerbeen is tans in ’n stut om dit reguit te hou en haar regterbeen het ’n suigpompie op om die vel te probeer heg.”

Volgens me Van Rensburg het haar dogter ook ’n gebreekte rib, maar is geen van haar organe gelukkig be­skadig nie.

Die Christian Motorcycle Associa­tion van George het Carol Ann Sondag in die George Hospitaal besoek tydens hul jaarlikse “blessing service”. Die groep het vir haar gebid en ’n “biker’s Bible” aan haar oorhandig. Hulle behoort aan die Biker’s Church op George.

“Ons wil graag vir almal bedank vir hulp, bystand en gebede. Hierdie is ’n baie moeilike tyd,” het me Van Rensburg gesê.

Volgens kapt Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie, is die polisie nog besig met sy ondersoek na die botsing. ’n Saak van roe­kelose en nalatige bestuur is geopen.