Talle rekords spat by tweekamp

Aksie tydens Saterdag se swemitems by die NA Smit-swembad.

Aksie tydens Saterdag se swemitems by die NA Smit-swembad.

NIE minder nie as ses nuwe SA Tweekamprekords en tien byeenkomsrekords is Saterdag by die 26ste Highgate Interprovinsiale Tweekampbyeenkoms op Oudtshoorn opgestel.

Altesame 512 atlete het in ideale weers­omstandighede aan die byeenkoms in die De Jager Sportstadion en die NA Smit-swembad deelgeneem.

Die byeenkoms is deur die span van die WP gewen met Boland tweede en die SWD derde, gevolg deur OP, Grens, Griekwas en die Vrystaat.

Die SWD-span spog met ’n oes van 14 medaljes, waarvan 7 goud, 3 silwer en 4 brons is. Daarbenewens is twee lede van die SWD-span, Gustav Schlechter van Outeniqua en Johan Windt van Mosselbaai, as onderskeidelik die junior en senior Victor Ludorem aangewys.

Bianca le Grange, leerder van Langenhoven Gimnasium, het ’n silwer medalje in die o.19-ouderdomsgroep gewen.

• Colan Sylvester, burgemeester van Oudtshoorn, het by die opening die oggend die belangrikheid van Oudtshoorn as sportbestemming onderstreep en gesê dit is die Groter Oudtshoorn munisipaliteit se visie om soveel moontlik sportbyeenkomste na Oudtshoorn te lok.
Die byeenkoms is afgesluit met ’n prysuitdeling by Highgate Volstruisplaas wat deur sowat 480 mense bygewoon is.

In haar toespraak het Anroux Marais, Wes-Kaapse minister van kul­tuursake en sport, die belangrikheid van talentidentifikasie op ’n vroeë ouderdom beklemtoon en bevestig hoe belangrik ’n gesinsport soos tweekamp vir gesonde ontwikkeling is.

• Dave van der Walt, voorsitter van SWD Tweekamp die afgelope 26 jaar, het sy uittrede uit tweekamp amptelik aangekondig.

Volgens Van der Walt sou die byeenkoms nie moontlik gewees het as daar nie so ’n gesonde verhouding tussen SWD Tweekamp, sy borge, donateurs, vennote en weldoeners bestaan het nie.
Sowat 2000 ouers van buite Oudts­hoorn het die dorp die naweek besoek en na raming sowat R4miljoen in die dorp bestee.

• Die Wes-Kaapse departement van Kultuurake en Sport en die Oudts­hoorn munisipaliteit is mede- borge van die byeenkoms.