Tweekamp SA’s kom in 2021 na Oudtshoorn!

DIE donker wolk van die kansellasie van die SA Tweekampkampioenskap wat Vrydag en Saterdag (20 en 21 Maart) op Oudts­hoorn sou plaasgevind het, het ’n silwer rand gekry.

Die SA Kampioenskap sou ’n groot finansiële inspuiting vir Oudtshoorn meebring deurdat groot getalle tweekampers en ander besoekers verblyf op Oudtshoorn bespreek het. Dié besoekers moes ook eet en ander inkopies doen. Dié inspuiting is nou daarmee heen deurdat die byeenkoms gekanselleer moes word weens die COVID-19-pandemie.

Die silwer randjie is dat die kampioenskap, die 45ste een, in 2021 op Oudts­hoorn gehou sal word, het Dave van der Walt, operasionele be-stuurder van Eden Tweekampvereniging, Dinsdag bekend gemaak.

Volgens hom het die SA Twee-kampbestuur die besluit tydens ’n onlangse elektroniese vergadering van die uitvoerende bestuur geneem. “Al veertien provinsies waar dit eens dat dit in die gees van tweekamp-ubuntu is en kenmerkend van ’n ‘gesin-sport’ waar tweekamp hom op roem om te wees,” het hy gesê.

“Daar is baie fasette wat SA Tweekamp in ag geneem het met dié besluit. Dit is die eerste keer in 45 jaar dat daar nie ’n SA kampioenskap aangebied gaan word nie. Die kansellasie weens die Corona-virus is immers iets wat nog nooit voorheen gebeur het nie en buite almal se beheer was. Daarom kry dieselfde dorp ’n tweede kans om die kampioenskap aan te bied.”

Volgens Van der Walt is dié tweede kans moontlik gemaak deur:
• Eden Tweekamp se voorberei-ding om “die beste SA tweekampkampioenskap nog te hou”;

• Deelname aan by die reWOLusie;

• Die publieke ondersteuning van Oudtshoorn en sy besighede; en

• Die goeie verhouding wat Eden Tweekamp vanweë sy positiewe gesindheid oor baie jare met die munisipaliteit, besighede, borge en gemeenskap opgebou het.

“Dit bewys dat SA Tweekamp vertroue in Oudtshoorn as gasheer het. Al verloor ons dit vanjaar, gaan die kampioenskap in 2021 na raming R7miljoen in die dorp inbring,” het Van der Walt gesê. Daar word beplan om tydens die kampioenskap meer mense vir ’n langer tydperk na Oudts­hoorn te bring deur die program met die KKNK se program te koördineer. (Deur Stefan Skapie Goosen)