Jada Coetzee (links) en Anlizé Vermeulen wat die naweek in Oudtshoorn en Port Elizabeth uitsonderlik presteer het in swem en tweekamp. Foto: Higgo Jacobs
Deur Higgo Jacobs
TWEE swemmers van die Freda Barnard Swemskool op Oudtshoorn het geskitter by die SA vlak 3 swemgala wat vanaf Vrydagaand in die NA Smit Swembad op Oudtshoorn aangebied is.
Topswemmers vanoor die hele land het aan dié byeenkoms deelgeneem.
Anlizé Vermeulen het goud gewen in die 50 m rugslag en silwer in die 100 en 200 m borsslag.
Sy het ook goud losgeswem in die 4×100 m-aflos.
Jada Coetzee het ’n silwer medalje in die 400 m vryslag sowel as in die 200 m rugslag gewen.
Sy het ook brons gewen in die 200 m vryslag en 50 m rugslag.
Wat dié twee sportsterre van Oudtshoorn se prestasies merkwaardig maak, is dat albei ook Saterdag in
Port Elizabeth aan die Suid-Afrikaanse Tweekampkampioenskap deelgeneem het waar Vermeulen ’n vierde plek behaal het in die ouderdomsgroep vir meisies o.19 en Jada ’n agtste plek vir meisies o.13.
Die twee moes na hul deelname aan die tweekampkampioenskap vinnig terugkeer Oudtshoorn toe om Sondag hier verder aan die gala deel te neem.