Twee Oudtshoorniete in kriekettoergroep na Zimbabwe

Micaela Andrews (links) en Jané Winster. (Foto verskaf)

TWEE SWD-krieketspelers van Oudtshoorn, Micaela Andrews en Jané Winster, is verlede week deur Krieket Suid-Afrika (KSA) ingesluit in ‘n “Emerging Women”-toerspan van 16 lede wat vanaf van Dinsdag, 18 Mei, teen Zimbabwe in ‘n reeks eendagwedstryde sal speel.

Volgens KSA bestaan die span wat van 18 tot 26 Mei teen die Zimbabwiese vrouespan op Bulawayo se Queens Sports Club gaan aanpak, uit die beste opkomende vrouespelers in Suid-Afrika wat ondersteun sal word deur ‘n paar Momentum Protea-spelers. Die span, onder die toesig van afrigter Dinesha Devnarain, sal volgens KSA op soek wees na ‘n baie beter vertoning as dié tydens hul toer na Bangladesj ‘n maand gelede. Beide Andrews en Winster het Oudtshoorn en die SWD in hierdie span ook verteenwoordig.

“Ons is baie tevrede met die talent in die span,” het Devnarain gesê. “Ons doel is om voort te gaan om saam te werk met hierdie groep vroue en die span se prestasievlak te verhoog. Ons het genoeg tyd gehad om te besin oor ons toer deur Bangladesj, en baie spelers in die groep gaan daarna streef om op groot skaal te verbeter,” het sy bygevoeg.

Volgens Vincent Barnes, KSA se hoëprestasiebestuurder, het die spelers in die span almal gedurende die somer uitgeblink, met ‘n aantal indrukwekkende vertonings vir provinsiale spanne. “Hierdie toer sal baie spelers wat drome koester om hul land op die hoogste vlak te verteenwoordig, in staat stel om krieket in verskillende toestande te ervaar, en dit sal ‘n belangrike rol speel in hul ontwikkeling as toekomstige Proteas.”

Die spanlede is: Andrie Steyn (Westelike Provinsie), Tazmin Brits (Noordwes), Robyn Searle (Noordelikes), Nondumiso Shangase (KZN-kus), Anneke Bosch (Noordwes), Sinalo Jafta (Westelike Provinsie), Leah Jones (Westelike Provinsie), Micaela Andrews (SWD), Masabata Klaas (Noordwes), Nonkululeko Mlaba (KZN-kus), Jané Winster (SWD), Nobulumko Baneti (Grens), Annerie Dercksen (Vrystaat), Tebogo Macheke (Limpopo) ), Delmari Tucker (Westelike Provinsie), en Jade de Figueredo (KZN-kus).

Wedstryde word op 18, 20, 22, 24 en 26 Mei 2021 gespeel.