Die Tornadoes het verlede Sondag die 2024 OPL T20 Vlakkiekriekettoernooi gewen toe hulle die Hungry Lions in ’n spannende eindstryd op Hunters Park in Dassieweg voor ’n groot skare met 12 lopies geklop het.
Tornadoes het eerste gekolf en het in 20 boulbeurte 82 lopies aangeteken.
Hungry Lions se Jantos Murphy het Tornadoes se toporde behoorlik vasgepen met sy akkurate boulwerk, met Thurston Murphy wat die beste gevaar het en 20 lopies bygedra het tot die eindtotaal. Hungry Lions was stewig op pad om die wenteiken te bereik, maar die paaltjies het teen die einde met reëlmaat geval en die span was almal uit vir 70 lopies.
Ducayne Plaatjies van Tornadoes was gekies as die dag se beste bouler, terwyl Thurston Murphy as die dag se beste kolwer aangewys is. Die voorsitter van Rainbow Deve-lopment Projects, Gavin Pietersen, het na die wedstryd die twee spanne geloof vir die goeie gees waarin die wedstryd gespeel is. Hy het ook sy dank teenoor die publiek uitgespreek vir die ondersteuning vir vlakkiekrieket wat baie meer toeskouers lok as ander krieket.
In die uitspeelstryd om die derde plek het Legends vir Prostars met 4 paaltjies geklop.
Prostars het eerste gekolf en 78/9 aange-teken, waarna Legends die wenteiken in die 18de boulbeurt bereik het. (Deur Garnet Wicomb)
Tornadoes 2024 OPL-kampioen
Die Tornadoes wat verlede Sondag die 2024 OPL T20 Vlakkiekriekettoernooi gewen het, hou hul trofee omhoog. Foto: Verskaf