Oudtshoorn Rugbyklub het ver-lede Saterdag die Swings van Haarlem op hul tuisveld by die REC in Oudtshoorn met hul SWD Eersteliga B-wedstryd getakel en weereens hul vernuf op die rugbyveld gewys toe albei hul spanne as oorwinnaars van die veld afgestap het.
Die A-span het met 20-19 gewen. Ruan Tolken het twee keer agter die pale gaan kuier, terwyl Jean Heunis sy vernuf met die skopskoen gewys het en twee doelskoppe en twee strafskoppe deur die pale gestuur het. Hiermee het Heunis ook gesorg dat hy aangewys word as speler van die wedstryd.
Die B-span van Oudtshoorn RFC het ook ’n oortuigende oorwinning aangeteken met die telling van 10-6. Die punte het bestaan uit twee drieë wat aangeteken is deur Preston Hartnick en Fredrich Koopman. Die B-span se speler van die wedstryd was Manchelin Natan.
Die huidige stand van sake vir Oudtshoorn RFC op die liga-punteleer dui aan dat hulle beslis hul semi-finaal op hul tuisvelde by die REC in Oudtshoorn gaan speel.
In ’n ander SWD Eersteliga wedstryd het Spring Roses teen Dysselsdorp gespeel.
Die A-span van die Roses het Dysselsdorp met 14-11 gewen terwyl die B-span van die Roses ’n wentelling van 17-5 op die telbord aangeteken het.
In verlede naweek se SWD Eersteliga A-wedstryd het die All Blacks se spanne teen die Silver Stars gespeel.
Die A-span van die All Blacks het met 34-29 gewen en die B-span se wentelling was 17-13. Die A-span van die All Blacks lê tans 2de op die SWD Eersteliga A-punteleer met 34 punte en die B-span is 1ste met 47 punte op die B-spanne se punteleer. (Deur Lindi Brill)
Oudtshoorn Rugbyklub stoomroller voort, Roses bult ook hul spiere in rugby-aksie van SWD-liga
Die A-span van Oudtshoorn RFC na hul oorwinning teen die Haarlem Swings. Foto: Verskaf