Die gewilde Eden Straatmylreeks vind vanjaar weer plaas en word soos in die verlede aangebied deur die KKAF.
Die reeks skop op 16 Desember af met die Klein Karoo Straatmyl wat in Baron van Reedestraat, Oudtshoorn gehardloop word en word afgesluit op Hartenbos met die ATKV Straatmyl op 18 Desember in Paardekraalweg.
Die KKAF en die sportgemeenskap van die Tuinroete wil ook graag hulde betoon aan een van die groot atlete uit ons gebied – Prof De Villiers Lamprecht. Hierdie oudskolier en hoofseun van die destydse Oudtshoorn Boys High en die eerste atleet om ’n droommyl in Suid-Afrika te hardloop, is onlangs oorlede.
Die KKAF dra graag vanjaar se Klein Karoo Straatmyl aan hom op – en hoe gepas dat dié straatmyl amper voor sy alma mater eindig! Gepas is ook dat sy kleinseun, ook Div Lamprecht, een van die ingeskrewe atlete is.
Van die topatlete wat alreeds vanjaar ingeskryf het, is Christopher Swart van NWU [2de in die World Students Cross Country], Keanu Domingo [NWU – 1ste in die World Student Cross Country], George Rancwana [PTC], Andrea Steynberg [Potchefstroom Gimnasium], Jansen Bell [NWU], Simoney Weitsz [wat ’n roeterekord in 2023 in die Klein Karoo Straatmyl op Oudtshoorn opgestel het], Erna-Mari Conradie [Paarl Gimnasium – verlede jaar se Jeug-kategoriewenner].
Uit die SWD-geledere kom top atelete soos Francois Maquassa, Tinus Ersamus en Nicolas Vrey. Daar was teen Maandag 9 Des 2024 alreeds ongeveer 90 vooraf- inskrywings!
Daar is ook weer die “Fun Mile” vir die oud-atlete en ander gewilliges by die ATKV Straatmyl in Hartenbos. Daar is geen inskrywings nodig nie – meld net aan by die wegspring. Verlede jaar het ’n hele paar oud-Springbokke die myl die stryd aangesê – en voltooi.
Meer as R40 000 se prysgeld is op die spel. Die hoofborge is NWU, ATKV Hartenbos, Wes-Kaap Departement van Kultuursake & Sport, ASICS en Groter Oudtshoorn Munisipaliteit. Addisionele borgskappe en bystand word verleen deur Oudts-hoorn Ford, Surval, Kleinplaas, Sante Fe Spur, ASWD, EdenFM, HollywoodBets, Mosselbaai Munisipaliteit [burgermeesterskantoor] en vrywilligers. EdenFM saai ook beide die straatmyle lewendig uit.
Ingebou in die reeks is ook die Grand Prix- stelsel waar die mans- en damesatleet wat die meeste punte oor die reeks verdien, wegstap met die gesogte Grand Prix-trofee en gesogte prysgeld.
Die status van straatmyle binne wêreld-atletiek is verhoog deurdat World Athletics dit bygevoeg het tot die nuwe Wêreld padkampioenskappe-program wat vir die eerste keer in Latvia aangebied is en waar van die Eden Straatmylreeks se wenners, Ryan Mphahlele en Carina Viljoen deel was. Die Eden Straatmylreeks bied nou aan ons atlete die geleentheid om die Atletiek SA-keurders te beïndruk vir opname in die SA-spanne.
Die Klein Karoo Atletiekfonds doen ook baie op die ontwikkelingsfront en word beginnersatlete aangemoedig om ook deel te neem.
Atlete kan in vyf ouderdomskategorië in die Eden Straatmylreeks meeding – Jong Talent [2010-2015], Jeug [2007-2009], Junior [2005-2006], Ope en 40+. Daar is ook ’n prys vir die beste ASWD mans- en damesatleet.
As deel van KKAF se ontwikkelings-program word daar in samewerking met die Sportontwikkelingsdepartement van die Groter Oudtshoorn Munisipalitiet en die topatlete ’n motiveringskliniek op Oudtshoorn op 17 Desember [10:00] by die Bridgton Sportgronde deur die Olimpiese atleet, Elroy Gelant, aangebied. Almal is welkom.
Meer inligting oor hoe om in te skryf asook die program is op www.edenmiles.co.za sowel as op Facebook beskikbaar.