Dinamiet kom in klein pakkies

Bo: HJ Botha en Aaron Bence by Aaron se motortjie en onder wys HJ duim in die lug dat hy reg is vir aksie. Foto’s: Verskaf

Dat dinamiet in klein pakkies kom, is die afgelope naweek deur Aaron Bence (5) en HJ Botha (9) bewys toe hulle in George aan die Oval Dirt Karting-byeenkoms deelgeneem het.

Die twee het gejaag dat die stof staan en albei het na vier rondtes en ’n eindrondte, hulle onderskeie afdelings gewen.

Altesaam 52 renjaers, waarvan 11 van Oudtshoorn was, het in die sewe verskillende klasse deelgeneem.

Aaron het sy liefde vir spoed by sy pa gekry en ry in die Ontwikkelingsklas met sy 160cc motortjie.

Hy is ook die jongste deelnemer.

HJ het in die160/200cc- klas deelgeneem, Sy nommer, D555, is dieselfde as dié van sy pa, die bekende ovaalbaan-renjaer Hendricus Botha.

Hulle neem weer op 21 Desember aan ’n byeenkoms deel om hulle geruite vlae te verdedig. (ANGELIQUE ERASMUS)