Tennisspelers kan weer bane geniet

LEDE van die Wesbank Tennisklub kan weer hul rakette na meer as drie maande uithaal om ’n potjie tennis te speel.

Volgens Susan Botha, die klub se sekretaresse, word sosiale tennis nou weer op Woensdae en Saterdae gespeel, hoewel die klubhuis steeds gesluit bly onder die vlak 3-regulasies.

Spel begin om 14:00 en spelers moet met maskers by die baan aankom, hul hande reinig en die nodige dokumente invul voordat hulle die bane kan betree.

Hulle kan sonder maskers speel.

Balfooie is steeds R20 vir lede en R30 vir nie-lede.

Volgens Botha kan lede ook op ander dae speel met die nodige reëlings wat met ’n lid van die bestuur getref moet word.

Botha kan geskakel word by 083 5005 900. (Deur Garnett Wicomb)