DA nie seker van burgemeesterspos

DIT is nog nie duidelik wanneer die Gro­ter Oudtshoorn-raad gaan vergader om ’n nuwe burgemeester in die plek van Colan Sylvester te kies nie.

Sylvester het in Junie, na ’n uitgerekte interne tugverhoor deur die DA, bedank.

Raadslede is volgens die speaker, Julia le Roux, tot 17 Julie 2020 in selfkwarantyn nadat een van hulle verlede week positief vir Covid-19 getoets het.

Intussen wil dit voorkom of die burgemeester uit die DA of die ANC se geledere gaan kom, al het die DA tans ’n meerderheid in die raad.

Volgens ’n ingeligte bron is daar ’n moontlikheid dat DA-raadslede wat Sylvester steun, eerder vir ’n ANC-burgemeester sal stem, terwyl die drie kleiner partye, Icosa, Sarco en die EFF ook waarskylik ’n ANC-kandidaat sal
steun.

Gerugte loop selfs op die dorp dat die ANC ’n huidige proporsionele raadslid met iemand van buite gaan vervang wat dalk hul nominasie vir die pos van burgemeester sal wees.

Jongilizwe Tyatya, die ANC se hoofsweep in die raad, sê die ANC-koukus het nog nie ’n besluit oor ’n kandidaat geneem nie.

Die DA het op sy beurt verlede week bekend gemaak dat die gesoute oud-raads­­­lid Chris Macpherson aangewys is as die party se proporsionele raadslid en burgemeesterskandidaat.

Die DA het met vyf moontlike kandidate wat aansoek gedoen het vir die pos, virtuele onderhoude gevoer voordat Mac­pherson aangewys is.

Hy is ’n oud-speaker van die raad en bekend vir sy kundigheid oor munisipale wetgewing en prosedure. Hy is egter met die 2016-verkiesing so laag deur die DA op hul proporsionele lys geplaas dat hy nie die raad gehaal het en sedert 2016 nie meer op die raad gedien het nie. (Deur Liesel le Roux)