SWD rugbyliga wedstryd uitslae van afgelope naweek

Bo: Die Harlequins sak in die skrum teen die Rangers. Foto: Verskaf Onder: Spring Roses se speler van die wedstryd, Morns Basie. Foto: Verskaf

In verlede naweek se SWD-ligawedstryde het die Harlequin Forces teen die Albertinia Rangers te staan gekom in die SWD Uitdaagbeker op die weermagvelde in Oudtshoorn.

Die spanne van die Harlequins het ’n uitdagende dag op die rugbyveld beleef, maar deur klipharde rugby het die A-span met 44 punte teenoor die Rangers se 7 geseëvier. Die B-span het na ’n intense wedstryd gelykop gespeel met 13-13. Die C-spa het ook ’n oorwinning behaal met hul eindtelling van 27-12.

In die eerste week van die SWD Uitdaagbeker se Top 8 lê die Harlequins 1ste op die punteleer met 5 punte. Hul volgende wedstryd is op 20 Julie teen die Evergreens in Pacaltsdorp.

In die Eersteliga-A Top 8-wedstryde het die All Blacks se A-span met 27-19 gewen teen die Eagle Stars in hul wegwedstryd in Sedgefield. Die drieë is gedruk deur John Jackson, Tshepo Moopela, Altheabo Matolla, Gerard Malgas en AJ Carew. Die doelskop is deur Jason Plaatjies aangeteken.

Die B-span van die All Blacks het ook hulle wedstryd met 24-3 gewen. Keanu Goliath en Nigel Buys het gesorg vir die drieë, terwyl Roberto Botha en Herschelle Coetzee seker gemaak het dat hulle die bal suksesvol deur die pale gestuur het.

Met die SWD Superliga-A se eerste Top 8 wedstryde het Bridgton gesorg dat hulle die Crusaders op hul tuisveld by Die Plate in Oudtshoorn geklop het met die A-span se telling van 41-22. Die B-span het ’n oortuigende oorwinning gevier met ’n telling van 72-15.

In die SWD Eersteliga-B se wedstryde wat verlede naweek gespeel was het Oudtshoorn RFC se A-span teen Willowmore verloor met 27-29. Die B-span het egter hul wedstryd gewen met ’n telling van 18-13.

Die Spring Roses was witwarm op die veld gewees teen Ladismith, en die A-span van die Roses het weggestap met ’n oorwinning van 34-27. Lee Angelo Harmse, Jayden Erasmus en Morné Badie (2) het gesorg vir die drieë, terwyl Aubrey Karelse die bal drie keer suksevol deur die pale gestuur het.

Die B-span het ook gewen met hul telling van 35-22.

Adias en Dysselsdorp Rangers het kragte gemeet in Dysselsdorp, waar albei spanne van Adias, ten midde van klipharde kompetisie, as oorwinnaars van die veld af gestap het. Adias se A-span het met 28-25 gewen, en die B-span met 13-7. (Deur Lindi Brill)