Die Oudtshoorn Rugbyklub het verlede Saterdag in ’n wegwedstryd teen Zoar gespeel.
Die A-span van Oudtshoorn het hul wedstryd met 10-14 verloor nadat hulle teen halftyd 10-7 voorgeloop het. Die B-span het hul wedstryd teen Zoar met 5-41 verloor nadat hulle slegs een drie kon aanteken.
Op Saterdag, 7 September, word hul halfeindrondte by die REC in Oudtshoorn gespeel. Die B-span speel om 14:30 teen die Titans B van Mosselbaai en die A-span pak Riversdale A om 16:00.
Die All Blacks het ’n suksesvolle dag op die rugbyveld gehad met hul oorwinning teen Thistles in Oudtshoorn.
Die All Blacks se A-span het 7 drieë, 6 doelskoppe en ’n strafskop met ’n eindtelling van 50-17 gewen. Die B-span het ook ’n weghol-oorwinning van 52-10 met agt drieë en ses doelskoppe gevier.
Die All Blacks se halfeindrondte word Saterdag, 7 September, op die Bridgton-sportgronde gespeel. Die B-span speel teen die Eagle Stars B om 14:30 en die A-span teen Happy Hearts A om 16:00.
Bridgton RFC het tuis teen George gespeel en skoonskip van al hul wedstryde gemaak. Die A-span het hul wedstryd gewen met ’n telling van 47-28. Die B-span se wentelling was 45-15 en die C-span het met 24-8 gewen.
Bridgton RFC se halfeindronde is ’n wegwedstryd en word 7 September teen Heidelberg gespeel. Die B-span speel om 14:30 en die A-span speel 16:00.
Die Harlequins speel Saterdag, 7 September op hul tuisvelde by die Weermag in Oudtshoorn.
Die B-span speel om 14:30 teen die Albertinia Rangers en die A-span speel teen die Seagulls om 16:00. (Deur Lindi Brill)

Die punteleer van die Eersteliga A Top 8 soos deurgegee vanaf SWD Rugby op 24 Augustus. Foto: Verskaf