SWD Krieket se moontlike skuif na George deur taakspan ondersoek

By die vergadering was, agter van links, dr Michelle Gratz, waarnemende munisipale bestuur­der van George; Leon van Wyk, burgemeester van George; Graeme Smith, direkteur van krieket by Krieket Suid-Afrika; Pholetsi Moseki, interim hoof- uitvoerende beampte van KSA; en Allen Paulse, direkteur gemeenskasdienste van George se munisipaliteit. Voor is Albertus Kennedy, uitvoerende hoof van SWD Krieket; en Maurice Ellis, onafhanklike direkteur van SWD Krieket. (Foto verskaf.)

’N MULTI-DISSIPLINêRE taakspan is in Augustus saamgestel om die vatbaarheid van SWD Krieket se moontlike verskuiwing na George te ondersoek.

Die Hoorn het reeds in Oktober 2020 oor die moontlike verskuiwing berig nadat Albertus Kennedy, uitvoerende hoof van SWD Krieket, dit by ’n netwerk-aand van die Oudtshoorn Besigheidskamer op die Rec aangekondig het. In daardie stadium was dit egter nog te vroeg om met sekerheid te sê die verskuiwing gaan wel plaasvind.

Op 11 Augustus vanjaar het ’n afvaardiging van Krieket Suid-Afrika, insluitend die voormalige Protea-kaptein Graeme Smith, met die George Munisipaliteit en SWD Krieket vergader waarna die taakspan gestig is om alle aspekte te ondersoek en ’n aanbeveling aan die George stadsraad te doen.

Die taakspan sal met SWD Krieket saamwerk. (Deur Stefan Skapie Goosen)