SWD Krieket se Gary Moos aangestel as spanbestuurder vir Khaya Majola Nasionale toernooi

Gary Moos, aangestelde spanbestuurder vir Khaya Majola Nasionale toernooi. Foto verskaf.

SWD Krieket se Krieketdienstebestuurder, Gary Moos, het ’n besondere erkenning ontvang nadat hy aangestel is as die spanbestuurder van die Cricket South Africa (CSA) Invitational XI wat aan die gesogte Khaya Majola Nasionale o. 19-toernooi gaan deelneem.

Die toernooi vind vanaf 16 tot 20 Desember in Stellenbosch plaas en bring van die land se beste jong kriekettalente byeen.

Die CSA Invitational XI sal tydens dié toernooi die geleentheid kry om hul vermoë teen sterk mededinging van regoor Suid-Afrika te meet.

Moos se aanstelling is ’n verdere bewys van die waardevolle bydrae wat hy tot die ontwikkeling van jeugkrieket lewer. Hy het reeds heelwat ervaring opgedoen in die bestuur van verskeie hoëprofiel-krieketgeleenthede.

Hy was onder meer betrokke as spanbestuurder van die CSA Hub-span tydens die Cape Schools Cricket Week, asook die Wildeklawer Noord/Suid-skoletoernooi.

Hierdie ervaring het hom goed voorberei vir die verantwoordelikheid wat met sy jongste aanstelling gepaardgaan.

Albertus Kennedy, uitvoerende hoof van SWD Krieket, het sy tevredenheid oor Moos se aanstelling uitgespreek en beklemtoon dat dit ’n welverdiende erkenning van sy harde werk en toewyding is.

“Gary het ’n groot indruk in verskeie krieketprogramme gemaak. Sy vaardighede, toewyding en ervaring in jeugkrieketprogramme is nou met hierdie aanstelling beloon,” het Kennedy gesê.

Hy het verder bygevoeg dat SWD Krieket dankbaar is vir die geleenthede wat aan personeel gebied word en dat dit besonder verblydend is wanneer hulle hierdie geleenthede aangryp en daarvoor erkenning ontvang.

Moos se aanstelling is nie net ’n persoonlike prestasie nie, maar ook ’n pluimpie vir SWD Krieket en die belangrike rol wat die organisasie in die ontwikkeling van krieketadministrasie en jeugkrieket speel.

SWD Krieket wens Moos alle sterkte toe met sy verantwoordelikhede tydens die nasionale toernooi in Stellenbosch.

Be the first to comment on "SWD Krieket se Gary Moos aangestel as spanbestuurder vir Khaya Majola Nasionale toernooi"

Leave a comment

Your email address will not be published.


*