Pasiënte by openbare hospitale in die Wes-Kaap kan voortaan hul fakture of rekeningstate per SMS of e-pos ontvang. Hulle kan die dokumente op hul selfoon of rekenaar oopmaak sonder om vir die pos te wag of na die hospitaal te gaan om ’n afskrif te kry.
Volgens die Wes-Kaapse departement van gesondheid en welstand kan posvertragings en verouderde adresse dit moeilik maak om rekeninge betyds by pasiënte te kry.
Met die nuwe opsie kan die hospitaal ’n skakel per SMS stuur of die rekening by ’n e-pos aanheg.
Volgens die departement begin dié skakel met https://www.blueprint.gov.za/. Om die faktuur te sien, tik jou geboortedatum of dié van die persoon vir wie die rekening is in.
Só maak jy jou hospitaalrekening oop
- Maak die skakel in die SMS of die aanhangsel by die e-pos oop. Volgens die departement begin die SMS-skakel met https://www.blueprint.gov.za/.
- Tik jou geboortedatum in die formaat dd/mm/jjjj in, met die skuinsstrepe. As die rekening vir iemand is wat van jou afhanklik is, gebruik daardie persoon se geboortedatum.
Jou faktuur of rekeningstaat sal dan oopmaak.
Mireille Wenger, Wes-Kaapse minister van gesondheid en welstand, het gesê dit behoort vir pasiënte maklik te wees om inligting oor hul gesondheidsorg te kry.
Sy verduidelik die digitale opsie kan pasiënte tyd spaar en dit vir hulle makliker maak om hul rekeningbesonderhede te raadpleeg.
Die departement vra pasiënte om seker te maak hul selfoonnommer, e-posadres en posadres is op datum. Hulle kan hul naaste hospitaal bel of besoek om die besonderhede by te werk.

Be the first to comment on "Hospitaalrekeninge nou per SMS of e-pos beskikbaar"