OM 42,2 km te hardloop sit nie in elkeen se broek nie, maar probeer dit met 22 kg se gewig op jou skouers en aan jou enkels…
Dit is presies wat Zane Anderson (24) op Sondag 12 Julie 2020 vermag het toe hy om 09:30 op die Calitzdorp-pad buite Oudtshoorn weggespring en om 18:10 klaargemaak het – met twee ruspouses van 20 minute tussenin. Sy roete het hom via die Volmoed-pad na die Mosselbaai-pad en toe verby die Safari Volstruisplaas tot in die dorp geneem.
Hoekom? Om R50 000 in te samel vir voedselhulp!
Zane, gebore en getoë in Harare in Zimbabwe, sê geestes- en fisieke gesondheid lê hom na aan die hart. Hy het self met angs en depressie gesukkel tot hy groot lewensveranderinge gemaak het. Na skool het hy Kaapstad toe getrek, maar toe die Covid-19-inperking intree, het hy saam met sy vriendin Oudtshoorn toe verhuis.
Met die inperking het hy vinnig besef dat baie gesinne in Suid-Afrika sou begin honger ly. In sy werk as kampvegter vir gesondheid en welstand vir die internasionale nie-winsgewende organisasie World Merit, ervaar hy eerstehands hoe belangrik gesondheid en voeding is.
Saam met sy liefde vir oefening en die inspirasie van ’n man wat tydens die inperking trappe gelykstaande aan die hoogte van Everest geklim het, het Zane ’n besluit geneem.
Hy wou ook “iets” doen om bewustheid te skep en honger mense te probeer voed.
“Ek kon nie net sit en lui wees nie. Ek het onmiddelik begin dink aan wat ek kan doen, en toe tref dit my: niemand het nog ’n marathon gehardloop met 22 kg op die rug en enkels nie. Ek het onmiddelik ’n gewigsbaadjie bestel en begin oefen.”
Al het hy nog nooit ’n marathon gehardloop of so ’n gewigsbaadjie gebruik nie, was hy vasbeslote om sy wedloop te voltooi. “Ek wou nie net geld insamel nie, maar ook mense wys wat moontlik is. Jy kan jou mental boundaries breek, en al het jy die gewig van die wêreld op jou skouers, kan jy steeds jou probleme oorkom en enigiets vermag.”
Zane het ses weke lank voorberei vir sy solo-liefdadigheidswedloop. “Ek het gedink ek sou dit in ses ure kon doen, maar het my eie vermoë oorskat.
“Die eerste 10 km het dit goed gegaan, maar teen 15 km kon ek die gewig behoorlik begin voel. Die baadjie maak dit moeilik om diep asem te haal, en ek dink ek het die impak van die enkel-gewigte onderskat. Ek het regdeur energiek gevoel – danksy dadelbolletjies, piesangs en elektroliete wat my vriendin aangedra het – maar die gewig het my doodgemaak. As dit nie vir haar en haar suster was wat ente saam met my gehardloop het en my gemotiveer het nie, sou ek dit nie gemaak het nie!”
Volgens Zane was die pyn in sy achilles-tendon na die tyd die ergste. “Ek wou in ’n stadium huil toe ek hardloop, maar ek was so gedihidreer dat daar geen trane wou uitkom nie!” lag hy.
Hy het sowat vier kilogram tydens sy wedloop verloor, en die adrenalien het so gepomp dat sy “hartklop seker agt ure geneem het om weer na normaal terug te keer.”
Sal hy dit weer doen? “Beslis! Dit was die moeite werd. Mense gaan kos kry, en hopelik sal iemand die boodskap kry wat ek probeer oordra het.”
Zane se teiken vir die fondsinsameling is R50 000, en staan tans op R9 000. Hy het ’n video van sy wedloop saamgestel en op Instagram geplaas; en hoop om daarmee nog baie geld in te samel. Volg hom: @zanemichaelanderson. (Deur Stefan Skapie Goosen)