Struisies se netbal- en rugbyspanne het Vrydag, 27 Februarie, hul staal gewys tydens vriendskaplike wedstryde teen Kannaland (rugby) en Aurial College (netbal).
Dit was ’n middag vol entoesiasme, sportmanskap en uitstekende spanpogings, met Struisies wat in al drie wedstryde as oorwinnaars uit die stryd getree het. Die o. 19A-netbalspan het in hul eerste wedstryd ’n stewige 16–11 oorwinning behaal.
Dit was ’n mededingende wedstryd waarin beide spanne goeie dissipline en deursettingsvermoë getoon het. Struisies se spelers het egter met doelgerigte aanvalle en akkurate doelskietwerk die oorhand gekry om die telling in hul guns te beklink.
Die o.19B-rugbyspan het daarna die toon aangegee met ’n indrukwekkende 41–14. Met vinnige balbeweging en noukeurige samewerking in die doelgebied het die span hul teenstanders onder konstante druk geplaas. Die verdediging het ook hul deel gedoen deur belangrike onderskeppings te maak wat tot verskeie doele gelei het.
In die laaste wedstryd van die dag het die o.19A-rugbyspan weer die baan betree en ’n uitsonderlike vertoning gelewer met ’n oorweldigende 75–0 oorwinning.
Die span se fokus, fiksheid en vasberadenheid was duidelik sigbaar, en hul spelpeil het getuig van deeglike voorbereiding en harde werk op die oefenbaan. Struisies wil graag hul opregte dank en waardering uitspreek teenoor Kannaland en Aurial College wat die reis onderneem het om aan die wedstryde deel te neem.
Die kragmetings is in ’n besonder goeie gees gespeel, en dit was bemoedigend om te sien hoe leerders hul talente met trots uitleef en die vrugte van hul harde werk op die baan ten toon stel.
Veel meer as net die eindtellings, was dit die bou van gesonde verhoudings tussen skole wat uitgestaan het. As vennote in onderwys deel die skole ’n gemeenskaplike doel: om jongmense nie net akademies nie, maar ook op sport- en persoonlike vlak te ontwikkel. Sulke geleent- hede versterk respek, sportmanskap en samewerking tussen gemeenskappe.
Met die netbalseisoen wat voorlê, word leerders aangemoedig om altyd te onthou dat wen of verloor hulle nie definieer nie. Dit is hul karakter, integriteit en die wyse waarop hulle ander hanteer wat werklik saak maak. Hierdie waardes dra veel meer gewig as enige telling op ’n telbord en lê die grondslag vir sukses. (GRANWILLE GOLIATH)
Struisies netbal- en rubgyspanne beïndruk met vriendskaplike kragmetings
Foto’s verskaf