
Stefan Sharp, afrigter van die sewesrugby-span wat gekies is om aan die Sainte Dévote Toernooi in Monaco deel te neem. (Foto verskaf)
Deur Ilze-Mari Gründling
’N OUD-GIMMIE, Stefan Sharp (34), reis aanstaande maand met ’n sewesrugbyspan wat hy saamgestel het en afrig na Monaco waar die span aan ’n opheffingstoernooi gaan deelneem.
Sharp, wat in 2001 aan Langenhoven Gimnasium gematrikuleer het, is ’n rugbyafrigter by die Laerskool De Hoop in Somerset-Wes.
Hy vertel Marius Schoeman van die SA Legendes Assosiasie (SARLA) het hom verlede jaar gevra om ’n span saam te stel uit spelers met potensiaal wat die laaste paar jaar baie ontwikkel het. “Ek het leerders van die laerskole De Hoop, Lochnerhof, Hendrick Louw en Alfondzo in Somerset-Wes en die Paarl gekies,” vertel hy.
SARLA, in ’n vennootskap met Cell C en die Prinses Charlene van Monaco Stigting, het dit toe vir die span moontlik gemaak om aan die internasionale Sainte Dévote-toernooi in Monaco te gaan deelneem .
Gavin Varejes, president van SARLA, sê die toernooi is ’n opheffingsprojek wat daarop gemik is om jong kinders van minderbevoorregte gebiede die geleentheid te gee om hul horisonne te verbreed deur na ’n nuwe bestemming te reis.
“Ons hoop die toer sal die lede van die SA spannetjie inspireer om hard te werk en sukses in hul lewens te behaal,” het Verejes gesê.
Die Sainte Dévote-toernooi vind op Saterdag, 18 Maart, in Stade Louis II plaas.
• Sharp se o.13-span het verlede jaar teen Ierland gespeel en al hul wedstryde gewen. Schoeman het gehelp om die span af te rig.