Union Stars rek sy voorsprong!

Reagan Booysen nadat hy sy 50-tal behaal het. Foto: Ben du Preez

Reagan Booysen nadat hy sy 50-tal behaal het. Foto: Ben du Preez

Deur Ben du Preez
Union Stars van Oudtshoorn het Saterdag sy voorsprong op die Sedgars Premiereendagreeks aansienlik vergroot met ’n stewige oorwinning oor Mosselbaai.

Mosselbaai het eerste gekolf en 194/8 op die telbord geplaas in hul toegelate 50 boulbeurte. Neil Ferreira was met 63 lopies Mosselbaai se beste kolwer.

Marcello Piedt (2/25) en Reagan Booysen (2/32) het vir Stars die beste met die bal gevaar.
Union Stars het daarna net 37,2 boulbeurte nodig gehad om die wenteiken te behaal met nog vyf paaltjies staande. Vir Union Stars het Booysen 56 lopies geslaan.
• Harlequins en Pirates United, albei aanspraakmakers vir die kwalifi-serende rondes van die Premierliga, het albei pak gekry.

Harlequins (88) het met 27 lopies teen George (115) verloor. Western Hope het vir Pirates met 49 lopies geklop. Western Hope het 222 lopies aangeteken en daarna vir Pirates vir 163 uitgekikker.
• Union Stars het tans 57 op die Premierligapunteleer gevolg deur Pirates, Harlequin Forces en Western Hope, al drie met 42 punte.